Wiehan en Francis Victor was eers vir meer as ’n dekade lank beste vriende voordat hulle die knoop deurgehaak het by Sweetfontein Boutique Farm. Lees verder om meer oor dié pragtige troue in die Karoo te hoor.

Die beste huwelike word op die fondasie van ’n goeie vriendskap gebou en Wiehan en Francis se pragtige verhaal is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Nadat hy die groot vraag tydens ’n staptog by die mooiste waterval gevra het, het hulle besluit om hulle troue in die Karoo te begin beplan.

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE

“Ons wou ’n outentieke Karoo-ervaring hê en het die tema en kleurskema oorgelaat aan die ervare span by Sweetfontein Boutique Farm. Gaste is gevra om wit aan te trek en die dekor en kleurskema was aards, neutraal en elegant.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?

“Dit was ’n pragtige dag en naweek vol hoogtepunte.

Gaste het reeds die Vrydagaand daar aangekom en is verwelkom met ’n Karoo-braai. Die aand het dit begin reën, wat ’n wonderlike gesig was in hierdie droogtegeteisterde gebied.

Ons troudag was helder en perfek, vandat ek en my ma met die paadjie afgestap het, tot aan die heel einde.

Wiehan het ook ’n verrassing vir my gehad. Hy het Herman Kleinhans genooi om op te tree by die onthaal. Hulle twee het spesiaal vir my ’n liedjie geskryf net voor die troue. Ons het so lekker op Herman se musiek gedans dat ons amper van die DJ vergeet het.”

HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?

“Spaar en maak seker dat jy binne jou begroting bly. Maak ’n lys van belangrike dinge om af te tiek, sodat jy nie daarvan vergeet of na die tyd spyt is nie.”

HET JY ENIGIETS SELF GEMAAK VIR DIE TROUE?

“Ek het ons eie onthou-die-datum-ontwerpe gedoen en ook ons eie trouwebblad ontwerp.”

Wiehan en Francis het ’n sprokiesmooi troue gehad en is dankbaar dat hulle die regte diensverskaffers aangeskaf het vir die spesiale taak.

DIENSVERSKAFFERS

Plek, koördinering, spyseniering, blomme, dekor en troukoek: Sweetfontein Boutique Farm Lodge

Drankies: Glenfiddich, Beyerskloof

Fotograaf: Randlehoff Media

Videograaf: Louis Reynhardt Productions

Musiek: DJ Brakkies – 083 305 8689

Vermaak: Herman Kleinhans

Trourok: Kyna Concili

Hare en grimering: Shalom Beauty and Hair

Bruidegom se uitrusting: The Modernist Tailor Made

Strooimeisierokke: Francisco Chico Barreto

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA