Nie eers inperking kon in die pad staan van Nelis en Chevonne se liefde vir mekaar nie en saam met hulle geliefdes het hulle troue gehou op hulle familieplaas. Lees verder om hulle storie te hoor.

Nadat hulle troue reeds twee keer vantevore geskuif moes word weens inperking, het Nelis en Chevonne besluit om op sy familieplaas die knoop deur te haak. Dit was ’n sprokiesdag wat hulle vir niks sal verruil nie. Sy vertel meer oor wat alles agter-die-skerms gebeur het…

HOE HET JULLE VOOR JULLE TROUE ONTMOET?

“My gesin het van Gauteng na Langebaan toe verhuis vir my pa se werk. Ek was aanvanklik baie bekommerd om my werk te los en in ’n dorp te bly waar ek niemand ken en moontlik nie gaan aanpas nie. Ons was twee weke daar, toe ontmoet ek en Nelis mekaar op die konstruksieterrein waar hy en my pa saam gewerk het. Agt maande later trek my gesin toe terug Gauteng toe. Ek glo vas dat ek in Langebaan moes wees om my trouman te ontmoet. Alhoewel ons vir ’n rukkie ver van mekaar af gebly het, het dinge op die ou einde uitgewerk soos wat dit moet.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?

“Nelis het my vir ’n naweek weggeneem na die Bantry Bay Hotel in Seepunt. Die hotelkamer waarin ons geslaap het was spesiaal opgemaak vir hom om die groot vraag te vra. Dit was die mooiste plek.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?

“Ons wou heel oorspronklik op my skoonouers se plaas getrou het, maar die logistiek om dit was net te moeilik. Ons het albei in Langebaan gewoon toe ons ons troue begin beplan het, maar ons families en vriende was wyd verspreid. Ons het toe op ’n venue besluit wat alles insluit omdat ons in Pretoria wou trou en om die reëlings en beplanning makliker te maak. Pretoria was mees sentraal vir al ons gaste.

Ek het ’n troubeplanningsboek gekoop en troutydskrifte wat my baie gehelp het oor waar om te begin en wat ’n mens nodig het. Ek het my idees vir die kleure op Pinterest gekry. Die kleure het vir my baie mooi saamgegaan en het perfek gepas by my blomme. Koningsproteas is my gunsteling-blom en ek wou dit baie graag by die troue in werk.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN ATMOSFEER VAN JOU TROUE?
“Stofblou en ligpienk is my twee gunsteling-kleure en het gehelp om ’n kalm en romantiese atmosfeer uit te beeld.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?

“Ons was baie opgewonde en ons het groot dankbaarheid in ons harte gehad vir almal wat gehelp het om die dag te laat realiseer. Ons groot dag was nie soos wat ons vir die amper twee jaar lank beplan het nie. Die meeste mense wat ons daar wou gehad het kon dit ongelukkig nie bywoon weens die COVID-regulasies nie, maar ons gesinne, oumas en meeste van die gevolg was daar. Op die ou einde van die dag het dit nie meer vir ons gegaan oor alles wat ons nie kon doen nie. Dit het gegaan oor my en Nelis en die nuwe hoofstuk wat ons begin.”

WATTER SPESIALE OOMBLIK HET VIR JULLE UITGESTAAN?

“Ons hondjie kon ons ringe in dra en al die Genisse se hondekinders kon deel wees van ons groot dag. Hulle het wel baie van foto’s ge-“photobomb” maar dit is so spesiaal.”

WATTER ELEMENTE VAN DIE TROUE HET JULLE SELF BEHARTIG?

“Ons het die tafeldekor self gedoen. Dit was baie makliker want ons was baie min mense. Ons het pennygum-blare op die plaas gebruik en almal wat vase gehad het, het dit van die huis af gebring. Hou die dankie geskenke klein en goedkoop. Ons het heuning in grootmaat gekoop en dit oorgegooi in kleiner potjies. Dit was perfek want die meeste mense kan dit gebruik.”

WAT IS JOU RAAD VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?

“Gaan met jou eerste gevoel wat jy het vir jou droom dag. As dinge nie uitwerk soos jy dit beplan het nie, wees net kalm en gebruik die hulpbronne wat jy tot jou beskikking het. Jy gaan verbaas wees wat jy en die mense om jou alles kan bereik met die beperkte hulpbronne beskikbaar.”

DIENSVERSKAFFERS:

Venue: Onverwaght-plaas

Spyseniering: Colette Cummins

Blomme: Nikita van Heerden

Kerse: Wild Leaves

Skryfbehoeftes: Vanessa van Heerden Creative Studio

Fotograaf: Candice Clarke Photography

Trourok: Lizan Zondagh Couture

Grimering: Chantel Els

Bruidegom se pak: Woolworths

Strooimeisierokke: Karen Couturier

Skoene: Te Fraai Diena

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA