The Peachy Peony het gaan ondersoek instel oor watter dankiegeskenke vir gaste perfek sal wees vir jou troue, want jy wil nie hê dat dit moet afsteek teenoor die res van die feestelikhede van die groot dag nie…
Elke troue is uniek en elke bruid wil hê dat die gaste nog vir lank na die troue daarvan sal praat. Daarom wil jy nie vir jou gaste dankiegeskenke gee wat teenoor die res van die troue afskeep nie. Ons het gaan kyk watter oulike dankiegeskenke tans gewild is…
1. Dit word al hoe meer ‘in’ om vir die mans en vrouens verskillende geskenke te gee. As jy speels wil wees, is sjokoladelip en -snorre ’n opsie. Draai dit toe in plastiek en rond dit af met ’n fraai lintjie en kaartjie.
2. Makrolletjies (beter bekend as Macaroons) in mooi verpakking, soos hieronder, is uniek en prettig. Jy kan ontwerpe gebruik wat eie aan julle troue is vir die kartonomhulsel.
3. Maak julle eie kelkies of likeur, gooi dit in botteltjies en gee dit as jou dankiegeskenkies. Dit maak nie net die geskenke uniek nie, maar julle sal hope pret hê om verskillendes te maak en uit te toets. Laat jou verloofde die mans s’n maak en maak jy die dames s’n.
4. ’n Mens sukkel soms om ’n geskenk te gee wat jy weet na die troue weer gebruik sal word. Sonbrille is wêreldwyd ’n baie goeie idee – jy kan dié brille dan deel van die foto’s maak. Koop bekostigbare sakkies en laat druk bewoording van julle keuse daarop.
5. As julle iets, soos ’n vrug, het wat vir julle spesiaal is, deel hierdie spesiale item met jou gaste. Maak net seker dit is beskikbaar gedurende die seisoen wanneer julle trou. Perskes kan baie oulik werk as julle byvoorbeeld kaartjies bysit wat sê: “I am Peaches for you”.
6. Oliebolle (of donuts) is tans in die mode en as jy ’n soettand het, is hierdie die perfekte afsluiting na ’n aand van dans en plesier. Verpak dit in oulike individuele houertjies wat almal verskillend is.
7. Tee is so ’n oulike geskenk om in die winter te gee, jy hoef hierdie een nie net vir jou troue te hou nie, maar jy kan dit selfs by jou kombuistee as geskenk gebruik. As jy nie ’n tee-liefhebber is nie, kan jy koffie of warmsjokolade insit.
8. Gee vir jou gaste saad vir ’n krui wat jy weet gebruik sal word. Elke keer wanneer hulle byvoorbeeld die kruisementplantjie sien en ruik, sal hulle herinner word aan julle wonderlike troue.
9. Aromatiese kerse is ook goeie geskenke. Jou gaste kry iets om saam huistoe te neem, wat nie net lekker ruik nie, maar ook mooi en romanties is.
10. Wat is nou beter as om spookasem in mini-formaat as dankiegeskenk te gee? Daar is nou soveel geure en kleure dat jy nie net tussen blou en pienk hoef te kies nie. Kies ’n kleur en geur wat by julle troue pas.
Artikel: Christell du Preez
Foto’s: Wedding Chicks, Anges de Sucre, Closer Online, Martha Stewart Weddings, Poppy Talk, Not on the High Street, Ruffled Blog, Romantic Decoration Now, The Wedding Specialists