Hoe kies jy tussen ‘n stylvolle troue in die wynlande of ‘n boeremakietie in die Vrystaat?

Om die plek te kies waar julle drome ‘n realiteit gaan word, is een van die eerste stappe waarmee troubeplanning afskop. Dit is die grootste besluit wat julle moet neem, aangesien ‘n groot deel
van die begroting hieraan afgestaan word. Daar is ‘n paar dinge om in gedagte te
hou wanneer julle na die regte plek soek…


DIE KLEURSKEMA EN TEMA
As julle nog altyd gedroom het van ‘n klassieke wit troue wat afspeel teen ‘n Franse agtergrond, is dit vanselfsprekend dat julle eerder by ‘n wynplaas sal trou, met dekor wat hierdie tema komplementeer. Die plek waar julle kies is immers die skilderdoek vir julle troue en moet soomloos inskakel by al die elemente wat julle wil deel maak van jul droomdag.

DIE BESKIKBAARHEID
Indien julle reeds finaal besluit het op ‘n troudatum, kan dit ‘n struikelblok wees as die troulokaal nie op daardie stadium beskikbaar is nie. Daarom is dit belangrik om eers na ‘n paar opsies te gaan kyk en al die ander aspekte rondom die troudatum in gedagte te hou, voor julle finaal jul harte op ‘n datum sit. As die troulokaal egter vir julle belangriker is, kan julle altyd ‘n ander datum oorweeg.

DIE LIGGING EN WEER
Dit klink idillies en romanties om in ‘n digte woud te trou, maar dit is nie noodwendig prakties om daar uit te kom nie. As julle troudatum gedurende die reënseisoen is, is dit beslis nie ‘n goeie idee nie.

DIE BEGROTING
As daar nou een ding is wat al julle planne in die wiele kan ry, dan is dit die begroting! Dit is noodsaaklik om min of meer te weet hoeveel ‘n troue kos, voor julle die begroting finaliseer en na troulokale begin soek. Hou in gedagte hoeveel julle kan bekostig en wie almal gaan bydra tot die uitgawes. Baie van die troulokale se pryse is op hulle webblaaie beskikbaar.

WAT INGESLUIT IS
Dit is belangrik om die regte vrae te vra wanneer julle troulokale besoek. Soms slit die prys die tafels, stoele, linne en breekware in. By ander is die huur van die sal weer ingesluit, mits julle van hul spyseniering gebruik maak. Sommige troulokale is so mooi, dat daar min blomme en dekor gaan nodig wees. Maak vooraf ‘n lysie en skryf alles neer waarvoor julle by elkeen moet betaal, sodat julle appels met appels kan vergelyk.

Hieronder is fotos van ‘n troulokaal waaroor ek mal is!

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA