Morné Coetzee het pas sy debuut-enkelsnit uitgereik en ook in 2020 vir die eerste keer pa geword. Lees verder om te sien wat hy alles in hierdie tyd geleer het en watter huweliksraad hy graag wil deel.

Vandag, Morné Coetzee se eerste enkelsnit en musiekvideo is onlangs uitgereik en is sover baie goed deur musiekliefhebbers ontvang.

Dit is ’n lekkerluister en motiverende Afrikaanse popsnit, uit die pen van Vaughan Gardiner, en lê die kunstenaar na aan die hart omdat hy self onlangs besluit het om ’n kans te waag en sy eie droom na te jaag.

Gedurende hierdie opwindende tyd waarin sy musiekloopbaan vlam vat, het hy en sy vrou, Zani, ook vir die eerste keer ouers geword van ’n pragtige dogtertjie met die naam Lente-Milan.

Ons het meer gaan uitvind oor hulle liefdesverhaal en hoe hulle tyd maak vir mekaar en hulle huwelik met ’n nuwe lid in die gesin.

WAAR HET JULLE ONTMOET?

“Ons het mekaar ontmoet by ’n musiekinstrument-winkel waar ek gewerk het. Sy en haar pa was opsoek na ’n dromstel vir haar agtiende verjaardag. Ek het haar na my kerk se jeug toe genooi en sy het gelukkig gekom.”

VERTEL ONS MEER OOR JULLE GROOT DAG

“Ons is in November 2014 in Dullstroom by Dunkeld Country & Equestrian Estate getroud. Ons tema was definitief boheems en dit het ’n bietjie soos ’n feëverhaal gevoel in die woud, omring deur dennebome. Ons kleurskema was skakerings van vuilblou en blospienk.”

JULLE HET IN 2020 OUERS GEWORD. HOE WAS DIE ONDERVINDING SOVER?

“Ouerskap is verseker ’n hele nuwe ervaring. Ons is mal oor elke oomblik en staan verstom oor hoe ons bederf is met so ’n mooi dogtertjie. Ons het weer die waarde van familie besef en gesien hoe ’n nuwe mensie mense bymekaar kan bring en harte sag maak. Jy besef ook dat jou tyd nie meer jou eie is soos in die verlede nie en word ’n meester in ‘multi-tasking’.”

HOE MAAK JULLE TYD VIR MEKAAR?

“Ek werk van die huis af en my vrou is ’n onderwyseres en dit tel baie in ons guns dat ons baie tyd saam by die huis is. Ons is ook so geseën met oumas en oupas wat baie tyd saam met hulle kleinkind wil spandeer, wat ons baie help as ons graag iets wil gaan doen of op ’n date night wil gaan.”

BESKRYF ’N TIPIESE ROMANTIESE AAND IN JULLE VERHOUDING?

“Ek en my vrou is baie lief vir uiteet, so ons sal gereeld tyd maak vir dit en net lekker gesels en om mekaar net weer te waardeer.”

WAT IS DIE BESTE HUWELIKSRAAD WAT JULLE NOG GEKRY HET?

“Sê eerste jammer, al was jy nie verkeerd nie en moet nooit kwaad gaan slaap nie. Wees mekaar se beste vriende en gesels oor alles. Moet ook nooit die ander een smoor in wat hom of haar gelukkig maak nie.”

WAT IS JULLE HUWELIKSRAAD VIR PAARTJIES WAT PAS OUERS GEWORD HET?

“Help mekaar met alles. Dis julle altwee se kind, so geniet elke oomblik van ouer-wees saam. Daar is vir ’n rede oupas en oumas wat wil tyd spandeer saam met hulle kleinkinders, so gebruik dit om tyd saam alleen te hê. Moet nooit mekaar een kant toe skyf nie.”

Morné het nog baie planne vir die toekoms, maar vir nou fokus hy egter op die bemarking van sy nuwe enkelsnit, om materiaal bymekaar te kry vir sy eerste album en om ’n goeie pa te wees vir sy dogtertjie. 

Vandag is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk die musiekvideo hier!

Foto’s verskaf

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA