Die venue wat jy vir jou groot dag kies, beïnvloed al jou ander keuses – van die datum tot die dekor en selfs of jy ander diensverskaffers gaan nodig hê of nie. Two Birds at the Dairy Shed verklap watter vrae jy moet vra om seker te maak dat jy reg kies.
Om jou venue te bespreek is seker een van die eerste en belangrikste dinge om te doen. Ongelukkig, omdat dit so vroeg in ’n bruid se belanningsfase is, mag daar baie goedjies wees wat jy mis, net nog nie van weet nie óf net te opgewonde is om oor reguit te dink. Two Birds at the Dairyshed het hierdie oulike vraelysie saamgestel wat jy kan uitdruk en saamvat wanneer jy jou venue gaan besoek.
- WATTER DATUMS IS BESKIKBAAR IN DIE MAAND WAT ONS WIL TROU?
Die laaste ding wat jy wil doen is om malverlief te raak op ’n venue en dan is julle datum nie beskikbaar nie, stel dus so ongeveer 3 datums vas en kyk dan of die venue by enige van daardie datums kan inpas. Nog ’n goeie wenk is om altyd jou venue so twaalf maande voor die tyd te bespreek sodat jy verseker weet jou datum sal beskikbaar wees.
- HOEVEEL MENSE KAN JULLE SAAL EN KAPEL HUISVES?
Die grootte van die kapel en saal speel ’n groot rol wanneer dit kom by die bespreking van ’n venue. Jy sal klaar min of meer ’n getal in jou kop moet hê wanneer jy na venues gaan kyk om seker te maak jou spasie raak nie te knap of dat jy hoef te sny net om almal in te pas nie.
- KWOTASIE EN KOSTES?
Vra altyd vir ’n kwotasie sodat jy nie te ver in die proses ingaan en dan sien julle sal dit nie kan bekostig nie. Vra ook altyd wat sluit hierdie kostes in.
- HOEVEEL IS DIE DEPOSITO EN WAT DIE JULLE KANSELLASIEVOORWAARDES?
Baie bruide dink omdat hulle reeds by die venue was kan hulle nou hul tyd vat om te bespreek, maar soms sien venues vyf bruide in een naweek en dan word jou datum, wat oop was, bespreek. Vra hoeveel is die deposito sodat jy dadelik weet of julle dit kan bekostig om te bespreek as julle van die venue hou.
- HOE GEMAAK MET DIE WEER?
Wanneer jy na die venue gaan kyk mag die weer dalk maanskyn en rose wees, maar nie elke dag lyk so nie. Vra hulle wat gebeur wanneer dit stormreën en hoe werk dié dae dan anders.
- HOE LANK VOOR DIE TYD SAL EK KAN KOM OPSTEL?
Die meeste bruide wil al die Vrydag klaar opstel sodat daar minder stres op die dag van die troue is, maar sommige venues laat jou eers toe om op die dag van jou troue op te stel.
- KAN EK RONDSKUIF?
As daar ’n tafel, blompot of standbeeld is waarvan jy nie hou nie, sal hulle jou toelaat om dit te skuif? Partymaal is daar iets waaroor jy mal is en dit graag op ’n ander plek sal wil sit, hoor sommer van die begin af of dit wel moontlik sal wees.
- DOEN JULLE SELF DIE SPYSENIERING?
Het hulle ’n sjef wat op die perseel is of moet jy iemand kry? As jy iemand moet kry, het hulle dalk vir jou ’n lysie van sjefs waarmee hulle al gewerk het.
- HOEVEEL SAL ONS KOMMUNIKEER EN MEKAAR SIEN?
Dit is baie belangrik om te onthou dat jy nie die enigste bruid is wat daar gaan trou, nie so dit is nie moontlik om elke dag vir ses maande met hulle te gesels nie. Vra sommer van die begin af hoeveel keer jy die venue moet / kan besoek voor die troue en dan ook wanneer julle wat sal bespreek – soos die kos, seremonie ensovoorts.
- WAT WORD ALLES INGESLUIT BY DIE HUUR VAN DIE VENUE?
Sommige venues vereis dat jy ekstra betaal vir eetgerei of tafeldoeke, vra van die begin af wat sluit die venue dekorgewys in. Jy wil nie graag ’n maand voor jou troue uitvind jy moet tafels inkry nie. As jy nie van hulle tafels / stoele hou nie, vra dan of hulle reg daarmee is as jy tafels inhuur.
- KAN EK MY EIE ALKOHOLIESE DRANKIES INBRING?
Die meeste venues vra ’n kurkfooi as jy jou eie wyn wil inrbing, vra wat hulle prys is per bottel en dan wat hulle as kurkfooi vra as jy jou eie wyn inbring, sodat jy sommer self kan besluit watter een vir jou die goedkoopste kan uitwerk.
- IS DAAR ANDER TROUES WAT GEDURENDE HIERDIE TYD PLAAS SAL VIND?
Die slegste ding vir ’n bruid is om ’n ander bruid op haar troue te sien. Vra of daar meer as een troue by die venue gebeur en of dit net jy en jou gaste gaan wees.
- WAAR TREK EK AAN EN WAAR TREK DIE BRUIDEGOM AAN?
Jy wil nie graag op ’n ander plek gaan aantrek nie, dit is net soveel gemakliker om by die venue self reg te kan maak. Vra of daar sulke areas beskikbaar is vir jou en jou bruidegom.
- TOT HOE LAAT KAN ONS PARTYTJIE HOU?
Gewoonlik sluit jou huurkostes die venue se tyd tot middernag in, vra hieroor en vra wat hulle per uur vra as julle die tyd oorskry.
Nou-ja hierdie artikel is omtrent ’n mondvol, maar om jou te help om hierdie vrae te onthou wanneer jy jou venue besoek, kan jy hier kliek om die verkorte vraelys gratis af te laai.
Foto: Alarm System Info