5 dinge wat
Jou beste vriendin gaan trou en jy wil graag die beste strooimeisie wees wat jy kan wees. Hier is vyf slaggate wat jy liefs moet vermy as jy graag die bruid se dag mooi en gelukkig wil maak.

Om ’n strooimeisie te wees by ’n vriendin se troue, is ’n baie opwindende rol om te speel. Bruide is gewoonlik vreeslik gespanne en daar is ’n miljoen goed om te reël en te beplan… daarom kies sy juis mense wat sy kan vertrou om haar te help en die stres van haar af te vat. Dit is daarom belangrik dat jy haar emosioneel moet ondersteun en moet help dat alles seepglad verloop.

Hier is 5 dinge wat jy nie moet doen as jy ’n goeie strooimeisie wil wees nie…

1. Moenie die aanstaande bruid ignoreer nie
Die lewe is besig, maar in hierdie tyd moet jy gereeld met die bruid gesels en uithelp waar jy kan. Moenie die foon los om te lui as sy bel nie en antwoord haar eposse. As jy ’n afspraak nie kan nakom nie, probeer om dit te skuif na ’n dag wat vir julle albei werk of bel na die tyd om te hoor wat besluit is en wat jy moet doen. Dit is jou werk om die aanstaande bruid spesiaal te laat voel en nie bitter en gefrustreerd nie.

2. Moenie belangrike datums vergeet nie
Daar is sekere datums soos rokpassessie, die kombuistee ensovoorts wat baie belangrik is. Skryf dit in jou dagboek neer en maak seker dat jy betyds is en hierdie aktiwiteite nie misloop nie. As jy iets aan het wat jy nie kan afstel nie, laat weet die bruid onmiddellik sodat iemand vir jou kan instaan of sodat daar ander reëlings getref kan word.

3. Moenie heeltyd oor alles kla nie
Die dag, en alles wat daarmee saamgaan, gaan nie oor jou nie, en dit is daarom ’n goeie idee om partykeer jou opinies vir jouself te hou, ’n strooimeisierok te dra al hou jy nie daarvan nie, jou verpligtinge met ’n glimlag na te kom en ekstra dinge te doen om die bruid spesiaal te laat voel. Moenie kla en die bruid irriteer nie. As die reëlings wat met die trou gepaard gaan jou nie pas nie, heroorweeg jou besluit om deel te wees daarvan en wees eerlik daaroor.

4. Moenie met ander strooimeisies baklei nie
Almal gaan nie altyd met mekaar oor die weg kom nie. Maar dit is belangrik om in hierdie tyd jou bes te probeer om die dinge wat jou irriteer oor die ander strooimeisies opsy te skuif – veral omdat julle baie tyd saam gaan spandeer en as span moet saam werk. Spanning tussen strooimeisies sal net vir die bruid nog ekstra stres veroorsaak, so doen jou deel vir haar part.

5. Moenie gaste nooi wat sy nie daar wil hê nie
As jy moet help om uitnodigings en save-the-dates aan te stuur, hou by die lys wat deur die paartjie aan jou gegee is en as jy voorstelle het, bespreek dit met hulle voordat jy jou eie kop volg. As jy onseker is oor iets, klaar dit uit voor jy oorgaan tot aksie en ’n fout maak. Onthou dat die paartjie ’n begroting het en dat jou foute stres en finansiële krisisse kan veroorsaak. So wees op die bol!

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA