vra jou gevolg met 'n piekniek1
Shaun en Rouxle wou graag ’n baie spesiale geleentheid maak van die dag waarop hulle die GROOT VRAAG vir hulle gevolg vra en het besluit om dit met ’n piekniek te doen. Lees hier hoe hulle te werk gegaan het.

Shaun en Rouxle is albei eksentrieke mense wat van die fynere dinge in die lewe hou. Sy is mal oor rooiwyn en hy oor port… en hulle werk ook albei vir ’n politieke party. Hulle was nog altyd mense wat gehou het van detail en piekniekhou en die mense in hulle lewe lê hulle na aan die hart. Daarom kon hulle nie net ’n SMS stuur om hulle ‘spesiale mense’ te vra om deel te wees van hulle gevolg nie… hulle moes net ’n spesiale geleentheid daarvan maak.

HOE HET JULLE BESLUIT WIE JULLE IN JULLE GEVOLG WIL GEBRUIK?
Ons is geseën met baie goeie vriende. Met party stap ons al ’n langpad, ander dalk korter, maar elkeen van hierdie twaalf mense is opreg opgewonde oor ons nuwe lewensreis en om deel te wees van ons spesiale dag.

WAAR HET JULLE DIE IDEE VIR DIE PIEKNIEK GEKRY EN HOE HET JULLE DIT BEPLAN?
Ons het lank gewik en geweeg oor hoe ons ons gevolg gaan vra – want om bloot te bel of sommer net ’n e-pos te stuur was vir ons nie goed genoeg nie. Ek en Shaun is mal oor detail – hy is immers ’n direkteur by een van die politieke partye, so ons gaan seker maar altyd ‘groot’. Die gaste het almal so drie weke voor die tyd ’n uitnodiging ontvang met die datum wat bloot gese het: “save the date: a special occasion for our special people”. Nader aan die tyd het ons meer besonderhede gestuur. Verder het ek woes gepinterest en gegoogle en my ma se raad en insette gebruik. ’n Piekniek, is een van ons gunstelingaktiwteit as paartjie, dis so gesellig, maar ook ’n manier om net te ontspan. En wat is meer classy, as ’n piekniek met vintage flair!

vra jou gevolg met 'n piekniek22

WATTER LEKKERNYE WAS IN ELKE PIEKNIEKMANDJIE?
Daar was ’n mandjie vir elke paartjie wat die piekniek bygewoon het. Elkeen het ’n botteltjie, strooitjie vir my jenewermengeldrankies, doopsous wat my ma gemaak het, asook haar wonderlike kaaspatee, sjokolade fudge, vars broodrolletjies, camembert, kerrienoedelslaai en individuele Peppermint Crisp Tert, in gehad.

WATTER PRODUKTE WAS TUISGEMAAK?
Ek het die sjokolade fudge, kerrienoedelslaai en Peppermint Crisp Tert gemaak en my ma het die doopsous en kaaspatee gemaak. (Kyk volgende Woensdag op die blog vir hierdie resep!)

WATTER GESKENKE IS GEGEE EN HOEKOM HET JULLE OP DIE SPESIFIEKE ITEMS BESLUIT?
Shaun het vir sy strooijonkers hipflasks gegee met hul name op gegraveer- met ’n kaartjie wat sê: “I ‘moustache’ you a question!”
Ek het vir elke meisie ’n boksie opgemaak met my gunstelingkoffie – wat ek en een strooimeisie al van hoërskool af drink, lekker English Breakfast-tee wat gepas is vir die boer-en-brit-troue, warmsjokolade, ’n notaboek en pen, en pêreloorbelle wat hul die dag van die troue moet dra. Ek het ook vir elkeen ’n briefie geskryf wat verduidelik hoekom ek haar deel van ons dag wil hê.

WANNEER IS JULLE TROUE EN WANNEER WAS DIE FUNKSIE?
Die piekniek was op 25 Oktober by Kirstebosch, en ons trou op 29 Augustus 2015.

HET ENIGIETS OULIK GEBEUR OP DIE DAG WAT JY MET ONS WIL DEEL?
Dit was werklik ’n wonderlike dag. Maar dit was wel vreeslik warm en dit was lekker om te sien hoe my nuwe swaer inspring en help dra aan alles. Teen daardie tyd het ek al geweet een van my strooimeisies is swanger en moes maar help met die koeldrank gooi en die geheim stil hou. Een van Shaun se strooijonkers het ook die oggend van Johannesburg af gevlieg om deel te wees van die dag.

WATTER RAAD HET JY VIR ’N BRUID WAT MOET BESLUIT WIE OM AS GEVOLG TE GEBRUIK?
Jou hart weet. Partykeer het ’n mens maande nie kontak met iemand nie en jy vererg jou oor goed, maar kies die mense wat jou spesiaal sal laat voel. Die persoon waarna jy op troufotos sal kyk en oor sal glimlag, die foon kan optel en voor kan sê: “Dit voel soos gister”. Kies jou vriendin wat noodgedwonge diensverskaffers sal begin bel, vir met blomme sal verras en wat wil luister oor jou soeke na ’n DJ. Kies mense wat weet dat die troue gaan verbygaan, en al is jy dalk nou Bridezilla- gaan alles weer na die tyd fine wees. Maar onthou, jou strooimeisies het ook goed wat aangaan in hulle lewens, hulle word dalk swanger, of trou ook en dat alles vir die volgende jaar nie net om jou troue hoef te draai nie.

vra jou gevolg met 'n piekniek3

WATTER RAAD HET VIR ’N BRUIDSPAAR WAT IETS SPESIAAL VIR HULLE GEVOLG WIL DOEN?
Die troue is nog so ver in die toekoms wanneer jy jou gevolg moet kies, so hoekom vier julle nie sommer solank ook die klein goedjies nie? Jy is net een keer verloof – “enjoy the little things in life, for one day you will look back and realise they were the big things”. Betrek jou bruidegom, want vir hom is dit net so spesiaal. Ek dink troues draai baie keer om die bruid, maar die bruidegom is tien teen een net so opgewonde en sal ook graag insette wil lewer. Maak dit vir jou gevolg spesiaal, hulle is immers jou spesiale mense en jy gaan baie op hulle leun, steun en by hulle kla! Verras hulle ook deur die verloop van die beplanning met koffie om op te vang en maak tyd om oor hulle lewens ook te praat.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA