Dit is deesdae nogal in die mode vir bruide om hul grimering lig en natuurlik te hou. Liezl Meyer van Liezl Meyer Hair & Make-Up gee raad oor hoe jy jouself mooi en natuurlik kan laat lyk… op gewone of spesiale dae.
Is jou begroting vir jou troudag ’n bietjie knap en moet jy self inspring om jou grimering te doen… of wil jy sommer net elke dag mooi en natuurlik lyk – soos toe jy nog baie jonk was? Wel dan moet jy nou verder lees, want hier is 10 stappe wat jou sal help om hierdie eindersultaat te bereik.
STAP 1: VOGROOM
Die vel is baie belangrik en moet gesien word as die belangrikste stap. Ek begin altyd met ’n goeie dagroom. Gee die vel ’n bietjie kans om die produk te absorbeer voor jy met die volgende stap begin (gaan maak vir jou ’n koppie koffie of kies solank jou uitrusting vir die dag).
STAP 2: VERBLOEMER
Verbloemer verrig wonders vir donkerkringe onder die oë. Begin by die binneste hoek van die oog en werk die produk met jou vingerpunt reg rondom die onderste wimperlyn. Dek die area onder die oog waar daar donkerte of rooigheid voorkom. Jou verbloemingskleur kan een tot twee keer ligter wees as jou onderlaag.
STAP 3: ONDERLAAG
Onderlaag is daar om jou vel egalig, foutloos en op een kleurtoon te kry. Kies ’n onderlaag wat die naaste is aan jou natuurlike velkleur. Gebruik ’n kwas of ’n sponsie om die onderlaag mee aan te wend. Dit gee ’n sagter en mooier afwerking.
STAP 4: POEIER
’n Ligte afstof van poeier laat die onderlaag en verbloemer langer hou. Jy kan ’n kleur of kleurlose poeier gebruik.
STAP 5: BLOSSER
Glimlag lekker groot en tik die blosser op die appel van die wang, werk die blosser dan met jou kwas afwaards op die wangbeen na die haarlyn. Passop om te veel produk op jou borsel te kry, die blosser moet nie te sterk oorkom nie, dit moet natuurlik voorkom.
STAP 6 WENKBROUE
Mooi wenkbroue is ’n moet. Jy kan ’n podlood of oogskadu gebruik. Kies die kleur naaste aan jou wenkbroue en vul eweredig aan.
STAP 7: MOOI OOGSKADU
Kies ’n natuurlike oogskadu van jou keuse en wend aan oor jou ooglid. Indien jy ’n bietjie meer tyd het, kan jy ’n tweede kleur bysit.
STAP 8: OOGOMLYNER
Trek ’n dun lyntjie aan die bokant van jou ooglid. Onthou om so naby as moontlik aan die wimperlyn te kom. Indien jy nie ’n definitiewe lyn op die ooglid wil hê nie, kan jy ’n oogpotlood neem en die lyntjie in jou traanlyn sit.
STAP 9: MASKARA
Rond die oog af met twee tot drie lae maskara om die wimpers definisie en volume te gee.
STAP 10: LIPSTIFFIE
Hier kan jy jou gunstelingkleur kies. Ek is mal oor helder kleure in die somer, en donkerder kleure in die winter. Jy kan lipstiffie netso aansit of met ’n kwassie.
Daarsy, 10 vinnige en maklike stappe om vir jouself ’n natuurlike voorkoms te skep.
Fotograaf: Lindie Meyer
Model: Nadia Kruger