die bruid se plek tydens die seremonie
Het jy al ooit gewonder hoekom die bruid en bruidegom op spesifieke plekke staan gedurende die seremonie? Lees verder om uit te vind wat die storie agter hierdie tradisie is.

—————————————————————————————————————————————————————–

SPESIALE AANBOD – kliek hier om Die Trouboek en/of Troukoors tydskrif te bestel.

Bestel_Troukoors_en_Die_Trouboek
——————————————————————————————————————————————————————

Julle gaan trou en het pas gehoor dat dit tradisie is dat die bruid gedurende die seremonie aan die linkerkant moet staan en is nuuskierig om te weet hoekom… of vies omdat julle dit eintlik andersom wil hê. Daar is verskeie redes hoekom dit vandag nog so gedoen word:

Dit is reeds sedert die Middeleeue tradisie dat die bruid aan die linkerkant moet staan. Gedurende hierdie tydperk is vroue geruil of gekoop om mee te trou en moes aan die bruidegom se linkerkant staan omdat sy hart aan die linkerkant is en die vrou dus ‘onder die man se hart is’. Sy regterhand moes vry wees vir ingeval hy dalk sy bruid moet verdedig. Indien laasgenoemde gebeur, sal hy dan sy bruid terughou met sy linkerhand en sy swaard met die regterhand hanteer.

Nog ’n rede hiervoor is omdat mans en vroue gewoonlik geskei is van mekaar wanneer hulle kerk toe gegaan het. Mans moes aan die regterkant sit en vroue aan die linkerkant. Dit het daarom net sin gemaak vir die man om dan aan die regterkant te staan en die vroue aan die linkerkant wanneer hulle trou. Dit gebeur ook dan dikwels so dat die bruid se gaste aan die linkerkant en die bruidegom se gaste aan die regterkant sit in die kerk.

Die moderne interpretasie is dat wanneer die man en vrou hande vat voor die preekstoel, dit simbolies is dat hulle nou ’n eenheid is en wanneer hulle dan na die gaste toe draai, is die vrou aan die regterkant en word sy inderwaarheid haar man se regterhand in hulle huwelik en lewe.

Trou gaan beslis oor meer as aan watter kant jy gaan staan… en as julle dit andersom wil doen, is dit julle keuse, want daar is nie regtig ’n reg of verkeerd nie. Maar dit is darem altyd interessant om te weet wat tradisie is en waar dit vandaan kom.

Foto: Love and Lavender

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA