Baie winkels bied deesdae die opsie vir paartjies om trougeskenke vir hulle troue uit te kies, wat gaste dan kan gaan koop. Maar wat is aanvaarbaar wanneer julle so ’n lysie saamstel?
—————————————————————————————————————————————————————–
SPESIALE AANBOD – kliek hier om Die Trouboek en/of Troukoors tydskrif te bestel.
——————————————————————————————————————————————————————
’n Troue is nou een maal ’n emosionele affêre. Buiten vir die bruidspaar kan gaste ook nogal knorrig raak wanneer jy vir hulle vertel wat om te doen of te gee as trougeskenke.
Dit is deesdae nogal mode vir paartjies om geskenke wat hulle nodig het, of waarvan hulle hou, te gaan uitkies en dan kan die gaste dit koop.
As julle graag ’n trougeskenkregister by julle gunstelingwinkel wil laat opstel, maar nie weet wat aanvaarbaar is en wat nie… lees verder oor die moets en moenies wanneer dit kom by die opstel van hierdie register.
WAT OM NIE TE DOEN NIE
* Moenie oorboord gaan en by elke winkel ’n geskenkregister laat opstel nie. Kies drie winkels vir gaste om van te kies.
* Moenie plaaslike winkels kies, wat nie aanlynkoopfasiliteite beskikbaar het nie, want dan gaan jou gaste wat ver bly sukkel om geskenke te koop.
* Moenie items lys wat jy nie nodig het nie.
* Moenie gaste forseer om items op die register te koop nie. As hulle eerder geld wil gee of iets anders kies, moet julle dit so aanvaar.
* Moenie vergeet om dankie-kaartjies te stuur vir geskenke nie.
* Moenie die registers vroeg toemaak nie. Los dit oop tot julle van wittebrood af terugkom vir ingeval iemand ’n geskenk laat wil gee.
* Moenie skuldig voel as julle nie ’n geskenkregister het nie. Dit bly julle keuse of julle een wil hê of nie.
WAT OM TE DOEN
* Stel ’n lys van trougeskenke op wat julle nodig het of graag wil hê voordat julle winkel toe gaan om die register saam te stel. Dit sal help om tyd te spaar en ook dat julle nie iets kies wat julle nie regtig wil hê of nodig het nie.
* Laat stel julle geskenkregister vroegtydig op, sodat mense genoeg tyd het om te spaar en te koop.
* Kies trougeskenke in verskillende prysklasse sodat daar iets is vir almal om te koop.
* Sit meer geskenke op as wat julle nodig het en kies iets van alles sodat daar meer opsies is om van te kies. Dit kan wissel tussen stelletjies en individuele items.
* Hersien die lys trougeskenke gereeld en voeg meer geskenke by indien nodig.
* Stuur so gou as moontlik dankie-kaartjies uit vir geskenke na die troue – handgeskrewe of e-poskaartjies kan baie mooi wees.
* Sluit jou geskenkregisterbesonderhede by jou trou-uitnodiging in sodat almal dit het.
Foto: Etsy