Depressie is die laaste ding waaraan jy dink wanneer jy troue beplan, maar die kombinasie van opwinding en senuwees kan nétso ’n kragtige uitwerking op jou hê soos die bestanddele van jou gunsteling-skemerkelkie.
Depressie kan ’n groot demper plaas op julle wittebrood en eerste weke na die troue as jy nie versigtig is nie. Gina van Staden gee raad oor hoe jy depressie na die troue kan voorkom:
JY MAG DALK EMOSIONEEL WEES NA DIE TROUE
Jy beplan jou troue vir maande aaneen, en elke detail moet perfek wees. Die groot dag breek aan, en jy kan uit jou nate bars van opgewondenheid. Die sjampanjeglasies word geklink, en kort voor lank keur julle weer terug van jul wittebrood af. Al jou emosies wat so hoog gepiek het die laaste paar maande, vat ’n skeilike duik, en dit laat jou bietjie ‘blou’ voel. Dis heeltemal normaal! Selfs toe Prins William en Kate Middleton in 2009 die knoop deurgehaak het, het almal verwag dat Kate depressief sou raak na die troue. So, dit word amper verwag van pasgetroudes om emosioneel te raak. As jy ’n bietjie ‘af’ voel na die feesvieringe, bespreek jou gevoelens met manlief – hy mag dalk nét die regte medisyne hê om jou te laat beter voel… en gedeelte smart, is halwe smart!
BEHOU JOU FOKUS
Onthou hoekom julle trou. Dis tog nie net om ’n mooi rok te dra, en om op ʾn idilliese wittebrood te gaan nie. Jy trou omdat daar ’n man is wat jou voete onder jou uitgeslaan het, en sonder wie jy nie die groot wêreld alleen wil aandurf nie! Die troue is meer as net ’n weelderige produksie – dis die samevoeging van twee mense, asook twee families. Herinner jouself daaraan dat die troue net die begin van ’n nuwe hoofstuk in jou lewe is.
MOENIE DAT DIE BEPLANNING STOP BY DIE TROUE NIE
Navorsers Allison Scott en Laura Stafford het met ’n groep vrouens gepraat oor die effek van na-troue emosies, en al die vroue het gesê dat hulle verveeld gevoel het na die troue. Party van die vrouens het gesê dat hul nogsteeds gelukkig was, al het hul ’n leemte gevoel (omdat hulle niks meer gehad het om op te fokus of te beplan nie), en die ander het weer verveeld en depressief daaroor gevoel.
Die belangrikste ding om te doen, is om seker te maak dat die beplanning nie net moet stop by die troue nie. Praat met mekaar oor wat julle verwagtinge is vir na die troue. Gaan julle in ’n nuwe huis intrek, of begin beplan vir ’n gesin, ensovoorts? Moenie dat julle huwelik stop sodra die troufoto’s gedruk is nie. Begin reeds beplan aan julle toekoms saam.
Geniet julle spesiale dag met oorgawe, en onthou dat die troue nie ’n einddoel is nie, maar ’n nuwe begin. Spaar net ’n tikkie opwinding vir die wonderlike lewensjare wat voorlê.
Foto: ABC News