hou jou troeteldier gesond in 2016
Jou troeteldier is deel van jou gesin en daarom wil jy nie hê dat Wagter siek moet wees nie. Yolanda Wessels gee raad oor hoe jy jou dier gesond kan hou gedurende die jaar wat kom.

Voorkoming is by verre beter as om agterna te sukkel met siektes/kwale wat voorkom kon word deur die regte lewensstyl. Veral met diere is dit baie belangrik om te verseker dat hulle goed versorg word, hulle kan immers nie praat nie en dikwels teen die tyd dat jy bewus word van gedragsveranderinge of simptome bespeur, is die probleem alreeds gevorderd. Tog is goeie versorging so eenvoudig en dit gee hulle die kans om ’n gesonde, goeie kwaliteit (en hopenlik lang) lewe te hê:

  • Skoon water: Waterbakke kan vinnig vuil raak, so let op dat daar daagliks skoon, vars water beskikbaar is.
  • Gebalanseerde dieet: Jy ís wat jy eet, dit geld ook vir jou troeteldiere. Sorg dat hulle ouderdomsgeskikte, gebalanseerde voeding ontvang wat voorsien in hulle behoeftes. Veral as Kiets of Wagter ’n gesondheidstoestand het, is dit noodsaaklik dat hulle die korrekte dieet volg wat in dié belange voorsien. Let ook daarop dat namate jou troeteldier ouer raak, moet voeding aangepas word vir die verskillende voedingsbehoeftes. Katte is karnivore, so dit is noodsaaklik dat hulle voeding bestaan uit hoë vlakke, maklik verteerbare proteïene.
  • Vermy snuisterye: Beperk enige bederfies want dit bevat onnodige byvoegings en kleurmiddels wat verskeie nadele tot gevolg kan hê.
  • Pelsversorging: Daar is niks so lekker soos ’n bad dan en wan mét sjampoe wat bedoel is vir diere en hulle sensitiewe velle (anders kan dit die vel uitdroog of lei tot/allergieë vererger) nie. Borsel die pels goed uit, veral diere met lang hare wat maklik kan koek. Kry die regte borsels, veral vir die fyner, sagte haartjies (sekondêre hare) van katte. Gereelde haarversorging kan kwale soos oogirritasies, oorinfeksies en haarballe voorkom.
  • Parasietbeheer: Dit is uiters noodsaaklik om jou troeteldier gereeld te ontwurm (verkieslik elke drie maande). Parasiete soos vlooie, bosluise en ingewandswurms lei tot groot ongemak en kan dodelike gevolge hê. Daar is verskeie topikale parasietdodende middels soos Revolution wat gebruik kan word om te verseker dat jou troeteldier nie vlooie of bosluise het nie.
  • Ideale gewig: Hou jou dier te gewig konstant. Vetsugtige diere se lewensgehalte word nie net benadeel nie (dink byvoorbeeld aan die stremming op gewrigte, rug en heupe), maar dit kan lei tot verskeie siektes, selfs diabetes, hart- en longsiektes, selfs kanker.
  • Oefening: Sekere honderasse benodig natuurlik meer oefening as ander, maar ’n flink stappie vir ten minste twintig minute elke dag sal goed wees. Vir katte is daar natuurlik ook krappale en verskeie klimaktiwiteite wat hulle aktief en op standaard sal hou.
  • Entings: Verseker dat jou troeteldiere se inentings altyd op datum is om ongewenste virusse en siektes die hok te slaan.
  • Sterilisasie: Deur jou troeteldier te kastreer/steriliseer verhoed jy nie net ongewenste swangerskappe nie, maar dit kan siektes en ongewenste gedragsprobleme voorkom.
  • Tandversorging: Tandheelkundige siektes kan ernstige toestande veroorsaak wanneer dit na ander organe in die liggaam versprei. Daarom is dit belangrik dat die troeteldier se tande en tandvleis goed versorg word en tandsteen verwyder word indien dit ’n gesondheidsrisiko raak.

Indien jy vermoed dat jou troeteldier siek is, iets onder lede het of ’n gedragsverandering bespeur (byvoorbeeld drink meer water/slegte eetlus/passief), besoek dadelik jou dierekliniek. Onthou, voorkoming is die kernwoord vir goeie gesondheid.

WEN!

hou jou diere gesond in 20162

Hill’s Pet Nutrition het altyd jou dier se gesondheid in gedagte wanneer hulle hul kos maak. Om dieregesondheid te vier, het hulle besluit om vir EEN GELUKKIGE KAT- en EEN GELUKKIGE HONDEIENAAR elkeen te bederf.

As jy hierdie inskrywing LIKE en SHARE, staan jy die kans om ’n #HillsFoodieBin PLUS 5kg van jou troeteldier se gunsteling Hill’s Science Plan-kos te wen. Die waarde van die prys is tussen R700 en R1 000. Skryf dadelik in om teleurstelling te voorkom!

Gedurende Februarie sal jy ’n gratis #HillsFoodieBin ontvang, met plakkers om dit meer persoonlik te maak, wanneer TWEE pakke Hill’s Science Plan of Ideal Balance vir jou troeteldier koop. Beskikbaar by deelnemende veeartse.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA