Hoe kies jy skryfbehoeftes vir jou troue 1
Skryfbehoeftes is die eerste ding wat jou gaste van jou troue sien en daarom moet dit indrukwekkend wees. CloudNest Design het raad oor hoe jy die beste keuses vir jou troue kan maak.

Wanneer ’n mens aan jou toekomstige troudag dink, dink jy: “Wow, ek kan nie wag nie, ek weet presies watter skryfbehoeftes, blomme en dekor ek wil hê… Ek sal dit sommer vining kan reël.” Dan tref die realiteit jou en vir die meeste bruide is dit ongelukkig nie so maklik nie; hulle idees is genoeg vir tien troues en hulle weet nie wat om op die ou einde te kies nie.

Sannika Bester van CloudNest Design wil graag help om een van die keuses makliker te maak… trouskryfbehoeftes.

BESLUIT OP DIE TEMA EN KLEUR VAN JOU TROUE
Trouskryfbehoeftes is soos juwele by ’n uitrusting, dit moet by die tema of styl pas. Is jou troue rustiek, klassiek, modern, boheems, vintage of eklekties (gemengde style)? Jou trouskryfbehoeftes se kleure, lettertipes en ander elemente gaan definitief jou troue komplementeer as dit by die res van jou styl of tema pas.

HOU JOU BEGROTING IN GEDAGTE
Jou begroting vir die skryfbehoeftes gaan bepaal of jy ’n aanlynuitnodiging of fisiese kaartjie gaan hê. Dit bepaal ook watter tipe ontwerp jy gaan kies, hoeveel papier en ander tierlantynjies soos kant, krale, ensovoorts jy gaan gebruik. Nog ’n ding wat jy in gedagte moet hou is hoeveel verskillende items jy gaan hê (sien lys hieronder) en ook of dit gaan deel uitmaak van jou dekor. Mooi spyskaarte, tafelnommers en naamkaartjies laat dadelik jou tafel se dekor meer gesofistikeerd  lyk. Praat met die ontwerper wat jy kies en bespreek opsies wat jou die meeste waarde vir jou geld gaan gee. Selfmaak-uitnodigings is nie noodwendig goedkoper nie.

KRY DIE REGTE ONTWERPER
Nie almal is gelukkig om ’n groot troubegroting te hê nie, maar jy hoef gelukkig nie ’n bank te beroof om mooi trouskryfbehoeftes te hê nie. Doen navorsing oor ontwerpers, veral nuwe talent en kies die een wat jy die gemaklikste mee voel. Praat met die ontwerper oor jou begroting en wenslysie. Die regte een sal oop wees om vir jou raad te gee oor hoe jy kan spaar om jou wenslysie en begroting bymekaar te bring.

Jou groot dag se beplanning moet vir jou lekker wees, so moenie te veel stres nie.

LYS VAN MOONTLIKE TROUSKRYFBEHOEFTES

  • Onthou-die-datum (Druk, E-pos of Whatsapp)
  • Uitnodiging (Druk, E-pos of webwerf)
  • Seremonie-program
  • Gasteboek
  • Spyskaart
  • Naamkaartjies
  • Tafellys
  • Tafelnommers
  • Geskenkboksies/plakkers
  • Dankiekaartjies

VOORBEELDE VAN WAT JY KAN DOEN
hoe kies jy skryfbehoeftes vir jou troue 2

Moderne swart en wit trouskryfbehoeftes is sterk in kontras, maar die sagte dun strepies blomme maak dit klassiek.

Waterkleurblomme is sag en vriendelik, bruide wat mal is oor die natuur en sagte kleure hou van hierdie styl.

Rustieke trouskryfbehoeftes word gebruik as jy van die plaasgevoel hou, natuurlike tipe materiale en hout.

Hout op hout is ’n tendens wat baie gebruik word, dit val ook onder die rustieke styl wat baiemaal gepaard gaan met vetplante en kant.

Grys, groen en koraal is hoogmode en as jy ’n natuurliefhebber is, gaan die kleure, saam met mooi blomme jou baie gelukkig maak. Dit sal mooi lyk by ’n tuintroue.

Foto’s is verskaf

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA