Baie bruide dink die moeilikste gedeelte is om te besluit of jy jou eie van hou en net sy van met ’n koppelteken aanheg of sy van aanneem. Vir party is mejuffrou na mevrou ’n maklike besluit, maar dit is nie al wat verander nie.
Jy mag dalk soos dieselfde persoon voel, maar iets wat jy in gedagte moet hou is dat jy basies vir die wêreld rondom jou ’n nuwe identiteit kry en dat dit soms nogal baie moeite kan wees om oor te gaan van mejuffrou na mevrou. Hier is so ’n paar voorbeelde wat jou dalk net sal help om met dié gedaante verwisseling by te hou.
JY GAAN ID-DOKUMENT MOET HERNU
Dit is die maklikste stap, maar soveel mense vrees dit. Dit was glad nie so moeilik nie, ek het my nuwe ID-boekie binne vier weke gehad. Maak seker dat jy jou huidige ID-dokument, bewys van adres en trousertifikaat saamvat, asook die nodige kontant om te betaal. Hulle gee vir jou ’n vorm wat jy moet invul en siedaar – jou nuwe ID-boekie is so te sê in die pos.
Ek was reeds ’n jaar getroud toe ek aansoek doen, die man agter die toonbank vra vir my trousertifikaat en sê toe hy moet eers gaan opsoek of dit geldig is, my hart het amper gaan staan vir daardie oomblik. Maar as jy deur jou pastoor of dominee (of self aansoek doen deur Binnelandse sake) hoef jy glad nie te bekommer nie, dit sal geldig wees.
ONTHOU WAAR JOU OU VAN GEBRUIK IS
Elke liewe rekening, dokterspreekkamer of instansie gaan jou nuwe van wil weet. Jy gaan jou e-posadres moet verander, bankrekeningnaam, jou mediesefonds ensovoorts. Hou maar vir die eerste ruk jou nuwe ID, jou trousertifikaat asook bewys van adres by jou. Waar jy jou adres wil verander gaan hulle hierdie dokumentasie wil sien.
JY IS NIE MEER MEJUFFROU NIE
Dit vat soms baie lank om gewoond te raak om die Mevrou-boksie op vorms te tiek en nie die Mejuffrou-boksie nie. Mense gaan ook van nou af na jou verwys as Mevrou, dit mag dalk baie oud klink, maar elke keer as hulle dit vir my gesê het, het ek net gedink wow ek is getroud met ’n amazing man en dit het my elke keer laat glimlag. Na drie jaar se getroude lewe, is ek nou eers gewoond daaraan om Mevrou te tiek, te sê en te hoor.
JY MOET MAAR MOOI LUISTER
Dit gaan ’n groot aanpassing wees om jou nuwe van te hoor en jy mag dalk die dokter se uitroep mis die eerste paar kere. As jy by ’n plek sit, waar jy weet hulle jou gaan roep, bly maar vir jouself sê: ‘luister vir my nuwe van, luister vir my nuwe van’. Dit het my ’n hele tydjie gevat om nie my ou van vir mense te sê nie, gelukkig nie so lank soos die Mevrou-storie nie, maar dit vat aanpassing.
OEFEN SOLANK
Jy gaan ’n nuwe handtekening nodig hê. Dit mag dalk snaaks voel om die nuwe tekening te maak, maar hoe meer jy oefen voor jou troue, hoe makliker sal dit word na die tyd. As jy nou-en-dan jou ou een gebruik, moenie sleg voel nie, probeer net volgende keer weer.
Kyk na hierdie uitdaging as ’n nuwe begin en geniet die gedeelte vir nou, na vyftig jaar van getroude lewe gaan jy so gewoond aan jou van wees dat jy gaan vergeet het dat jy ooit deur hierdie verwikkeling gegaan het.
Artikel: Christell du Preez, The Peachy Peony
Foto: Crimmigation Experts