verhouding
’n Verhouding kan soms swaar trek as gevolg van die verlede. In My Father’s War speel Erica Wessels die rol van ’n vrou wie se man swaar aan die verlede se bagasie dra. Hier is raad oor hoe om te keer dat sulke bagasie julle verhouding kelder.

Erica Wessels speel die rol van Carina in die nuwe fliek, My Father’s War. Carina is tot op haar uiterse kapasiteit oorweldig deur haar man en seun se gebroke verhouding. Boonop is sy ’n diabeet wat sukkel met moegheid. Sy is die gom wat hulle familie aanmekaar hou en haar grootste begeerte is dat daar vrede en eenheid in haar gesin sal wees. Die bagasie wat haar man uit die verlede saamdra, is besig om hulle uitmekaar te skeur. Ons het by Erica gaan raad vra oor hoe ’n mens jou verhouding teen die verlede kan beskerm.

WAT IS DIE GROOTSTE UITDAGING VIR ENIGE NUWE VERHOUDING?
“Om spasie te maak vir iemand anders met hulle eie persoonlikheid en behoeftes. Ek dink dat ons baiemaal vooropgestelde idees het van hoe romanse moét wees, en dit veroorsaak dat ons blind kan wees vir iets wonderliks wat reg voor ons staan.”

WAT IS DIE BELANGRIKSTE LES WAT JY AL GELEER HET OOR DIE LIEFDE?
“Om te leer hoe om eerlik en sonder oordeel te kan kommunikeer, is baie bevrydend. Dit, en die hoop dat liefde altyd weer in ’n ander vorm sal kom.”

HOE VERGELYK JY EN CARINA MET MEKAAR?
“Ons is baie anders op die oppervlak, maar ek verstaan haar behoefte vir vrede in haar familie. Ons deel dus dieselfde waardes.”

WAT IS DIE BOODSKAP/LEWENSLES WAT KYKERS UIT DIE FLIEK SAL KRY?
“My hoop is dat die fliek mense wat deel was van die oorlog, aan die praat sal kry. Elkeen het sy eie storie oor die uitdagings, trauma en die impak wat dit gehad het op hul primêre verhoudings. Uiteindelik hoop ek dat dit vir hulle genesing sal bring.”

HOEKOM IS HIERDIE ’N MOET-SIEN FLIEK?
“Want dis ’n baie aangrypende drama en goeie vermaak. Dit het ook lekker ‘boys’ tonele tussenin!”

RAAD VIR WANNEER DIE VERLEDE JOU VERHOUDING VERSMOOR
HOE WEET JY OF JOU VERLEDE BESIG IS OM JOU HEDE OOR TE NEEM?
* Jy vergelyk jou maat met iemand uit jou verlede;
* Jy het vrese dat die verlede homself gaan herhaal;
* Jy dink/obses te veel oor jou eks;
* Jy glo dat jy nooit weer ’n verhouding sal hê nie; en
* Jy wil nie vergewe en aanbeweeg nie.

HOE KEER JY DAT DIE VERLEDE OORNEEM?
* Vergewe. As jy sukkel om dié te vergewe wat jou seergemaak het, probeer terapie en werk daardeur.
* Maak klaar met jou eks. Moet hom nie google nie en moenie dinge doen om hom te wil terugkry nie.
* Wees lief vir jouself, al het wát ookal gebeur in jou verlede.
* As jy heeltyd gaan praat oor die verlede, gaan dit altyd deel bly van jou hede.

HOE STAAN JY JOU MAAT BY AS HY SUKKEL OM DIE VERLEDE TE HANTEER?
* Luister as hy praat. Moenie oordeel nie en wees baie geduldig.
* Verseker hom dat jy nie aan hom gaan doen wat mense in die verlede aan hom gedoen het nie.
* Stel voor om saam met hom vir berading te gaan – dit kan jou gewilligheid om te help bewys.
* Gee hom spasie as hy ’n moeilike dag het.
* Mense wat sukkel met verlede-dinge dra seer en woede met hulle saam, so bou hom op.

My Father’s War begin vandag by teaters, regoor die land, wys. Gaan ondersteun die fliek. Hier is die lokprent.

Artikel: Gina van Staden
Foto geneem uit die fliek

 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA