Troumusiek gaan oor meer as net liedjies kies vir jou platejoggie om te speel. Daar is baie wat jy in gedagte moet hou. Gauteng DJ verklap wat elke paartjie oor hulle troumusiek moet weet.
Die venue is bespreek, jy het ’n rok, daar is blomme en die dekor lyk mooi… nou moet julle nog net besluit oor die troumusiek en ewe skielik lyk iets – wat jy gedink het maklik en gou gaan wees – vir jou moeilik en gekompliseerd. Gauteng DJ het raad sodat jy die beste keuse kan maak wanneer dit by julle troumusiek kom.
WAT DINK JY IS DIE VYF BELANGRIKSTE DINGE WAT ELKE BRUIDSPAAR OOR TROUMUSIEK MOET WEET?
”Cater for the crowd” – Speel wat die gaste op die dansvloer wil hoor en moenie julle platejoggie beperk om byvoorbeeld net klassieke musiek te speel omdat dit julle gunstelingmusiek is nie. Onthou dat die dansvloer daar is vir julle, sowel as jul familie en gaste en dat julle dit almal saam wil geniet. Ek pas die musiek aan vir grootouers, ouers en dan ook vir die jonger geslag. Ek hou daarvan as gaste versoeke kom vra, omdat dit help om die dansvloer vol te hou en dit my help om te sien van watter tipe musiek die gaste hou. Ek hou natuurlik ook die dansvloer dop!
Maak julle keuses voor die troue – Verskaf julle musiekkeuses, soos wat om te speel wanneer die bruid in die kerk instap, wanneer julle by die kerk uitstap, wanneer julle by die saal instap, wanneer die koek gesny word, die kousband en ruiker gegooi word, ensovoorts vroegtydig aan julle platejoggie. ’n Professionele verskaffer sal reeds ’n lys vir julle musiekkeuses aan julle e-pos wanneer julle die deposito betaal. Hy weet dus wat om te speel tydens elke fase van julle troue. Ek versoek paartjies ook om op hulle lys van musiekkeuses hulle 10 gunstelingdansliedjies te lys en wag gewoonlik tot hulle op die dansvloer is voor ek dit speel, sodat ek weet dat hulle die dansvloer ook geniet. Hulle dui ook op hul musieklys aan van watter tipe musiek hulle hou en van watter tipe musiek of sanger(s) hulle nie hou nie. Dit help ook om spesifieke liedjies aan te dui waaroor hulle mal is en ook watter liedjies (indien enige) ek glad nie moet speel nie. Op die manier weet ek watter versoeke ek mag speel en en watter nie.
Speel gepaste troumusiek – Bly weg van “tranetrekkers”, al is dit nommer een op die trefferparades. Dit plaas ’n somber atmosfeer op die dansvloer en kan ’n hele ruk neem om dan weer ’n gehoor op die dansvloer te kry. Onthou dat die atmosfeer by ’n troue opgewek, vriendelik en vol liefde is en dat die musiek daarby moet pas.
Lees die dansvloer – ’n Goeie DJ sal in staat wees om die dansvloer te lees en musiek volgens die gaste se smaak aan te pas. Laat hom toe om vasdansmusiek en losdansmusiek te speel. Ek kyk na die gemmiddelde ouderdom en taal van die gaste en speel eers vir die ouer garde ’n lekker liedjie of twee wat gewoonlik ook ’n wals insluit. Onthou dat hulle gewoonlik nie later die aand daar is om op die meer upbeat liedjies te kuier nie. Ek speel dus eers vir hulle smaak en pas die musiek daarna stadig aan. Ek deel gewoonlik vroegaand my DJ-kaartjies uit en noem dat gaste welkom is om my te SMS met hul musiekkeuses vir die dansvloer. Gedurende die onthaal, toesprake en ete ontvang ek dan heelwat versoeke en sorteer dit dan om te speel tydens gepaste oomblikke op die dansvloer.
Harder musiek is nie beter nie – Tydens die onthaal hou ek daarvan om die musiek rustig te hou en bly weg van dansmusiek. Ek speel dan enigiets – van liedjies wat tans op die Top 40 is, oldies, instrumentele musiek en die algemene gunstelinge. Ek hou dit egter sag en rustig, want dit is dan die tyd wanneer familie wat mekaar lanklaas gesien het wil lag, gesels en opvang. Harde musiek is dan onnodig, maar die musiek moet ’n doeltreffende agtergrond verskaf. Wanneer die dansvloer geopen word, sit ek die musiek harder, maar nie te hard nie, sodat almal dit steeds kan geniet. Ek stel dit gerus harder op versoek en begin ongeveer 30 minunte voor slutingstyd die musiek liedjie-vir-liedjie sagter sit. Die gewilde stadiger liedjies word ook dan gespeel.”
HOE KIES ’N MENS DIE BESTE TROUMUSIEK?
“Kies musiek wat opgewek is en pas by die geleentheid. By troues word daar oor die algemeen gewilde vasdans- en losdansmusiek gespeel. Dit is nie die geleentheid vir jazz, heavy metal, klubmusiek en musiek met vloekwoorde in nie. Kyk na jul CD-versameling, luister na die trefferparades en vra julle vriende om julle ook verder met jul keuses te help. Vra ook julle platejoggie watter musiek hy sal voorstel, omdat hy dit elke naweek speel en sien wat gewild is. Onthou dat indien julle die dansvloer om 20:00 open en teen 00:00 afsluit, daar teen ’n gemmiddeld van 15 liedjies per uur slegs 60 liedjies gespeel word voor afsluitingstyd. Maak dus seker dat daardie ±60 liedjies die regte liedjies is. Julle kan ook familie en vriende wat na die troue uitgenooi is vra om elkeen een liedjie voor te stel wat hulle wil hoor, wat die kunstenaar en liedjienaam insluit. Stuur dan hierdie lys aan julle platejoggie en vra hom om dit te speel tydens die onthaal en op die dansvloer. Hy sal dit self verdeel om by die onthaal en dansvloer te pas.”
HOE KAN ’N MENS, DEUR MIDDEL VAN MUSIEK, LEWE BLAAS IN ’N STYWE TROUE?
“Speel opgewekte musiek wat die atmosfeer verlig en bydra tot ’n lewendige troue. Mense sal altyd lekker gesels, kuier en dans waar daar aangename musiek gespeel word. Die seremoniemeester is ook belangrik in hierdie opsig, omdat hy en die platejoggie goed moet kan saamwerk. Hy vertel dus ’n snaakse grappie of staaltjie en die platejoggie speel gepaste musiek daarna.”
WATTER DRIE LIEDJIES IS TANS DIE GEWILDSTE OPENINGSLIEDJIES VIR BRUIDSPARE?
VIR INSTAP BY DIE KERK:
Rochester Philharmonic Orchestra – Wedding March
The Piano Guys – A Thousand Years
Sleeping At Last – Turning Page
TROUMUSIEK WAARMEE DIE BRUIDSPAAR DIE DANSVLOER OPEN:
Francois van Coke & Karen Zoid – Toe Vind Ek Jou
Ellie Goulding – How Long Will I Love You
Bobby van Jaarsveld – My Alles
WATTER 10 LIEDJIES IS ALTYD OP JOU MUSIEK-VIR-DIE-AGTERGROND-LYS EN HOEKOM?
Dit is ’n moeilike keuse! Liedjiekeuses verskil van troue tot troue, omdat dit aangepas word vir die taal, samestelling en ouderdomsgroepe by die troues. Oor die algemeen sou ek dit egter soos volg opsom:
Vir die onthaal:
The Lumineers – Ho Hey
Sheryl Crow – Love Is Free
Anton Goosen – Kruidjie Roer My Nie
Billy Joel – Piano Man
Bobby Darin – Beyond The Sea
Dana Winner – Hou Jy Nog Van My
Dozi – Ou Ryperd
Fairground Attraction – Perfect
Dr Victor – If You Wanna Be Happy
Neil Diamond – Cracklin Rosie
Vir die dansvloer:
Bok Van Blerk – Koue Voete En Warm Liefde
CCR – Bad Moon Rising
Jay – Superhero
Kurt Darren – Kaalvoet Sokkie
Karlien Van Jaarsveld – Hande
Juan Boucher – Trek Toe Die Gordyne
Kenny Rogers – The Gambler
Chubby Checker – The Twist
Journey – Don’t Stop Believing
Neil Diamond – Sweet Caroline
ANDER INLIGTING OOR TROUMUSIEK
Kyk gerus op Gauteng DJ se webblad onder “Song Suggestions” vir hope liedjiekeuses vir elke deel van julle troue. Dit word gereeld bygewerk en paartjies is welkom om hulle keuses aan my te e-pos, sodat ek dit ook daar kan bywerk. Volg ons ook op Facebook.
Foto: The HitMan