braai
Braai is iets waaroor die meeste Suid-Afrikaners mal is. As julle ’n informele troue beplan, hoekom inkorporeer julle nie hierdie trots-Afrikaanse element op ’n stylvolle manier by julle piekniek- of buitelugtroue nie?

Hier is ’n paar oulike idees vir ’n informele, dog stylvolle, buitelugtroue:

DIE ATMOSFEER
Hoe klink ’n paar stalletjies in die buitelug met ’n kuieratmosfeer wat nie gou vergete sal raak nie? ’n Braai by jou buitelugtroue sal beslis verseker dat almal jou troue sal onthou. Vir vermaak kan jule ’n boere-orkes of ’n goeie Afrikaanse kunstenaar kry om die gaste heelaand op hulle voete te hou.

SPYSENIERING
* Vir die hoofgereg kan julle braaimielies, roosterkoeke of braaibroodjies, vars slaaie en aartappelgeregte voorsit.
* Nagereg kan in buffet-vorm voorgesit word en kan tradisionele lekkernye soos koeksisters en gevulde “doppies” saam met ’n paar sterk potte boeretroos bied.

MEUBELS
Pallethouttafels kan gedek word en hooibale of reisdekens kan dien as sitplekke. Jy kan selfs ’n hoekie naby die vure as ’n tipe sitkamer inrig. Sodra die son sak kan gaste hulle hier gemaklik tuismaak. Wat sê meer “kuier” en “plaas” as dit? Braai pas so gemaklik in by ons kultuur.

braai_2

TROUKOEK VIR JOU BRAAI TROUE
Biltong, enigiemand? Daar is al soveel biltongkoekontwerpe beskikbaar dat jou troue niks sal mis indien daar nie versiersuiker betrokke is nie. Maar vir die pare wat wel ’n soettand het, kan die troukoek se versiering bietjie meer informeel gehou word.

KLEREDRAG
’n Bruid bly nou maar eenmaal ’n bruid en as sy wil optof is dit haar reg. Maar met hierdie informele tipe troue kan bruidegomme daarmee wegkom as hulle in ’n mooi kotbroek, of sonder ’n das voor die kansel wil staan. Kruisbande kan die prentjie ook mooi afrond.

DEKOR
Braai is die tema waar eg Suid-Afrikaans seëvier. Lanterns op die tafels sal sorg vir ’n romantiese geselligheid en die gewilde woestynrosie en vetplantjies sal die rustieke gevoel komplementeer.

LAATNAG VERMAAK
Omdat hierdie so ’n kuieratmosfeer is, kan die gaste laataand om die vure sit en malvalekkers braai. Hierdie kampvuur-toonsetting lok altyd snaakse stories en avonture uit en sal almal, oud en jonk, baie genot verskaf.

Vir informele paartjies en bruide wat nie daarvan droom om soos Aspoestertjie in ’n kasteel te trou nie, is ’n braai troue seker die beste idee onder die Suid-Afrikaanse son. As jy nog inspirasie soek hieroor, gaan loer gerus op Pinterest.
Artikel: Gina van Staden
Foto’s: Southbound Bride, Pinterest, Brides, Lanzarote Weddings, Perth Bridal Fair, Celebrations

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA