’n Verlowingsfotosessie was die perfekte manier om die beplanning en opgewondenheid vir Francois en San-Mari se groot dag af te skop. Gina van Staden het meer gaan uitvind oor hierdie mooi paartjie se oulike fotosessie.
Francois en San-Mari deel hul liefdesverhaal met ons, asook hoekom hulle besluit het om ’n verlowingsfotosessie te laat doen. Die fotograaf, Aline Photography, vertel ons meer van die fotosessie en hoekom verlowingsfoto’s ’n goeie idee is:
FRANCOIS EN SAN-MARI
HOE HET JULLE ONTMOET EN VERLIEF GERAAK?
“Dit mag dalk vreemd klink, maar ons het aanlyn ontmoet. Drie weke nadat ons begin gesels het was ons uit op ons eerste afspraak, en na nog ’n paar afsprake en ’n braai saam met vriende het ons besef ons wil ’n paadjie saam stap.”
WAT HET JULLE LAAT BESLUIT OP ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE?
“’n Verlowingsfotosessie gee ’n mens die geleentheid om jou fotograaf beter te leer ken sodat julle teen die troudag gemaklik kan wees met mekaar. ’n Mens kan ook die foto’s gebruik op spaar-die- datum-kaartjies en ander skryfbehoeftes. Ons ken vir Aline deur my suster en het baie van haar werk gehou. Ons weet nou dat ons troufoto’s in bekwame hande is.”
WAT BEPLAN JULLE VIR DIE TROUDAG?
“Ons wil net ’n heerlike, geseënde dag saam met vriende en familie geniet. Lekker kos, musiek, mooi blomme – net een groot fees.”
ALINE PHOTOGRAPHY
WAT WAS DIE TEMA VAN DIE VERLOWINGSFOTOSESSIE EN HOEKOM?
“Piekniek op die plaas met baie natuurlike foto’s. Dit is waarop San-Mari en Francois besluit het.”
HOEKOM IS ’N VERLOWINGSFOTOSESSIE ’N GOEIE IDEE?
“Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe ’n groot aanwins dit is vir beide die fotograaf en die paartjie om ’n verlowingsfotosessie te laat doen nie. Dit is die ideale geleentheid vir die fotograaf om te sien waarmee die paartjie gemaklik voel, vir die paartjie om gewoond te raak aan sekere posisies en om mekaar ook beter te leer ken. Nie almal voel ewe gemaklik voor die kamera nie en dié dien dan as ’n proeflopie.”
WATTER RAAD KAN JY VIR PAARTJIES GEE WAT HULLE SOEKTOG NA ’N FOTOGRAAF BEGIN?
“Styl! Daar is soveel verskillende fotografie-style en ek vind dat die meeste van my bruide eers na my werk gaan loer het voordat hulle besluit het om van my dienste gebruik te maak. Sommige fotograwe gee bitter min leiding en neem meer dokumentêre foto’s en ander (soos ek) gee weer leiding waar nodig. So gaan kyk na verskeie fotograwe se portefeuljes en werk van daar af.”
So as jy gewonder het of ’n verlowingsfotosessie ’n goeie idee is, kan jy nou ’n ingeligde besluit maak.
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Lezar Opstal
Fotograaf: Aline Photography
Stilering: San-Mari Erasmus