5 maniere om jou venue aan te pas 1
Julle het na ’n venue gaan kyk en is mal oor alles, behalwe daardie een muur en standbeeld, wat nou? Los julle dié venue en gaan soek vir ’n ander een wat meer gepas is vir julle styl?

Dit is moeilik om aan almal se smaakvoorkeure te voldoen wanneer dit kom by die dekor van ’n venue, daarom gee Christell du Preez van The Peachy Peony vir jou hierdie vyf wenke oor wat jy kan doen as jy nie van ’n sekere aspek van die venue hou nie.

1. DIE KAPEL IS NIE GROOT GENOEG VIR JOU AANTAL GASTE NIE
Dit is deesdae die mode om meer intieme troues te reël en as dit is wat jou venue in gedagte gehad het met die beplanning van die lokale, het jy nou ’n spasieprobleem.

WAT DOEN JY: Kyk of daar ’n grasperkarea is waar jy die seremonie kan hou. Jy kan oulike wit sambrele vir jou gaste gee om seker te maak hulle word nie deur die son verbrand nie. Omdat die meeste gelowe vereis dat jy onder dak moet teken, kan jy dan ’n geleentheid daarvan maak om na jou seremonie die formaliteite in die kapel af te handel en kry jy ook daardie foto’s geneem. Jy kan groot wit sambrele of klein wittes gebruik.

5 maniere om jou venue aan te pas 2

2. DIE ONTHAAL IS ASEMROWEND, MAAR DIE TAFELS EN STOELE PAS NIE BY JOU TEMA NIE
Baie venues het nog ronde tafels en plastiekstoele, dit is perfek as jy gedink het om alles met lap te bedek, maar nie so wonderlik as jy rustiek of meer natuurlik wil gaan nie.

WAT DOEN JY: Huur tafels en stoele. Daar is soveel maatskappy wat daarin spesialiseer. Jy sou in elk geval tafeldoeke, runners, sitplekoortreksels ensovoorts moes huur. Die meer natuurlike voorkoms gaan ook beteken dat jy nie soveel dekor op die tafels hoef te sit nie, wat jou sal help om koste te bespaar.

5 maniere om jou venue aan te pas 3

3. DAAR IS ’N MUUR WAT BY NIKS PAS NIE
Die venue het gedink om ’n fokusmuur te maak, maar dit pas nie by jou tema of kleurskema nie. Jy hou net mooi niks van die muur nie en daar is net geen ander oplossing as om skelmpies die muur met ’n blik verf  by te kom nie.

WAT DOEN JY: Backdrops is deesdae hoogmode. Jy kan een spesiaal laat maak wat presies dieselfde grootte as jou muur is of jy kan daardie muur met drapering bedek. Hier is ’n paar idees:

5 maniere om jou venue aan te pas 4

4. DIE DAK IS NIE MOOI NIE
Jou venue het dalk aan elke liewe detail op die grond gedink, maar ongelukkig is daar nie so baie aandag aan die dak gegee nie, óf hulle het gedink ’n Victoriaanse, geverfde dak is baie mooi… en dit pas nie by jou styl nie.

WAT DOEN JY: Jy hou dalk nie van outydse drapering nie, maar dit voel soos die enigste manier wat jy daardie lelike dak kan toemaak. Hier is ’n meer moderne idee:
– As jy iets meer rustiek soek, kan jy die dak bedek met takke en lampe laat uithang vir ’n romantiese gevoel.
– As jy gaande is oor blomme, bedek die aaklige dak met daarmee.

5 maniere om jou venue aan te pas 5

5. DAAR IS TE VEEL SPASIE VIR JOU DEKOR
Daar is ’n area wat leeg lyk en jy het nie ’n idee hoe om dit te vul nie, jy kan dit nie net so los nie, want dit is te ooglopend.

WAT DOEN JY: Of jy dit nou wil erken of nie, daar is altyd groepies by ’n troue. Maak dit lekker gemaklik en sit banke of bale neer in klein sitkamers, sodat jou gaste lekker gesellig kan wees óf gebruik hierdie area vir jou photobooth!

5 maniere om jou venue aan te pas 6
Jy hoef nie altyd by die tema van jou venue te bly nie, as jy 90% van die plek hou kan jy maklik die ander 10% verander.

Hooffoto: Coco Weddings
Foto’s: Wedding chicks; Elizabeth Anne Designs; The Knot; Esty; Balushka; Tahoe Unveiled; One Fab Day; Huffington Post; The Style Co; Colin Cowie Weddings.

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA