venue
Die venue is die hart van jou troue en het ’n invloed op elke aspek van jou troubeplanning. Gina van Staden verklap watter bestanddele nodig is om die regte plek vir julle mooiste dag te kies.

ekspo-2

Dis veilig om te sê dat die venue die belangrikste element van troubeplanning is want daarsonder kan ʼn troue nie bestaan nie. Maar hoe kies mens die perfekte een? Hier is raad:

DIE BEGROTING EN DIE DROOM-VENUE
Elke bruid wil by die asemrowende trappe van ʼn luukse sprokies kasteel afstap na haar knight in shining armor toe, maar die realiteit van begrotings kan ʼn mens redelik brutaal terug ruk aarde toe. Hanteer die soeke na die venue dieselfde as jou trourok – as dit nie binne jou begroting val nie, moet dit nie aanpas (of daarna gaan kyk) nie!

OMGEWINGSKWESSIES
Wil julle in die nabye omgewing trou of oorweeg julle om die ja-woord te sê in ʼn ander dorp of provinsie? Gaan julle reg wees daarmee om moontlik ʼn paar keer soontoe te reis om nodige details uit te sorteer? Is die venue op ʼn plek wat vir julle gaste gemaklik sal wees om heen te reis?

In die geval van bestemmingstroues moet julle besluit of jul gaste self hul reis- en verblyf fooie moet betaal en of gaan julle sorg daarvoor. Indien hulle self moet betaal is dit belangrik om die uitnodigings lank voor die troue uit te stuur sodat die gaste voorsiening kan maak.

STYL EN SMAAK
Meet die venue-keuses aan jou eie smaak en die kleurskema/tema wat julle beplan vir die troue. ʼn Troutema met ʼn plaas-gevoel sal byvoorbeeld nie so suksesvol werk in ʼn venue met ʼn kasteel voorkoms nie. So ook nie ʼn Great Gatsby-tema troue by ʼn venue met ʼn natuurlike of plaas atmosfeer nie.

GERIEWE
Elke venue se reëls en aanbiedinge verskil, so vind die een wat alles bied waarna julle soek. Vrae om te vra aan die venue:
* Hoe verskil die prys struktuur tussen Vrydae, Saterdae en Sondae, asook seisoene?
* Hoeveel troues sal op ons troudatum bespreek wees?
* Mag ons enige verskaffers gebruik?
* Is daar ʼn dansvloer? Musiek gereedskap? Veilige parkering?
* Watter meubelstukke verskaf julle?
* Watter dekor verskaf julle?
* Doen julle spyseniering? Sal julle toelaat dat ons ons eie spyseniering doen?
* Het julle ʼn dranklisensie en kontant kroeg of sorg ons vir ons eie?
* Hoe lank mag ons die venue gebruik?
* Ruim ons self op of verskaf julle skoonmaak dienste? Kos dit ekstra?

Goeie navorsing is uiters belangrik wanneer julle ʼn venue kies. Neem eerder ʼn bietjie meer tyd as wat julle oorhaastig bespreek en dit na die tyd berou.

Foto: JunkMail

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA