’n Troubegroting is seker die ding wat paartjies die meeste laat kopkrap. Gina van Staden ondersoek hoe ’n mens hierdie netelige kwessie van die begin af moet aanpak.
Hoe bepaal en hou ʼn mens by die troubegroting? Ons lig ʼn paar punte uit om te oorweeg voordat die troureëlings in volle swang is:
WIE MOET BETAAL VIR DIE TROUE?
Tradisioneel rus die finansiële verantwoordelikhde op die bruid se ouers se skouers, maar dit is iets wat nie regtig meer van toepassing is met hedendaagse troues nie. Soms dra albei families by tot die troukostes, maar dit het aanvaarbaar geword vir paartjies om vir hulle eie troues te betaal.
HOE BEPAAL EK MY TROUBEGROTING?
Omdat julle per kop betaal moet die gastelys eerste in ag geneem word. Gaan julle ʼn groot of intieme troue hê? Hierna moet julle dink aan ʼn venue – julle gaan meer vir ʼn romantiese kasteel moet opdok as die gastehuis in die dorp. Spyseniering volg daarna, en dan ander detail soos julle klere, dekor en die troukoek.
WAAR KRY EK DIE GELD?
Dit sou wonderlik gewees het om die bedrag uit ʼn hoed te kon pluk, maar om ʼn troubegroting op te stel verg veel meer. Het julle spaargeld? Gaan julle ʼn lening aangaan om te betaal vir die troue? In die geval waar julle ouers help met die kostes, is dit verligtend om net ʼn gedeelte saam te skraap.
Soms het paartjies lang verlowings omdat hulle elke maand ʼn bedrag spaar om hulle troues kontant te betaal, om sodoende nie hulle huwelikke met skuld te begin nie.
DATUM EN TYD
Saterdae gedurende die lente en somermaande is troukostes op hul hoogste. Paartjies met groter gastelyste of kleiner troubegrotings kan oorweeg om gedurende die wintersmaande of op Vrydae of Sondae te trou. Dit raak al hoe meer gewild, so wees gerus, dit is glad nie meer ʼn vreemde verskynsel nie.
TROUBEGROTING UITEENSETTING
Die troubegroting kan as volg uiteengesit word:
Venue– en seremoniekoste – ongeveer 50%
Kleredrag – 10%
Blomme en dekor – 10%
Musiek en vermaak – 10%
Fotografie en videografie – 10%
Skryfbehoeftes, ringe, vervoer, geskenke en ander – 10%
HOE HOU EK BY MY TROUBEGROTING?
Dis redelik eenvoudig, maar self-dissipline moet toegepas word. Sit spesifieke bedrae uit vir elke aspek van die troue en hou streng daarby. Moenie duurder opsies en diensverskaffers oorweeg wat jy nie kan bekostig nie. Indien een deel van julle troue die troubegroting oorskry, moet een van die ander aspekte verminder word. Datter dus gereeld julle begroting op.
Wees ook altyd op die uitkyk vir doen-dit-self projekte en span kreatiewe vriende en familie in om kostes te bespaar. Prioritiseer goed en spandeer byvoorbeeld eerder meer op die fotograaf as op die geskenke.
Geldsake is ʼn belangrike aspek in die huwelik en om julle troubegroting te beplan is ʼn oefenlopie vir hoe julle geldsake gaan benader sodra julle as ‘meneer en mevrou’ verklaar word.
Foto: Huffington Post