Troues met ’n plaastema is baie gewild in Suid-Afrika, veral onder doen-dit-self bruide. Hoe dan anders met ons sonskyn en buitelewe? Sonja Oosthuizen, van Karoosie, gee ’n paar idees vir die blomme wat by so ’n sprokiestroue gebruik kan word.
ʼn Plaasstyl troue hoef jou nie net aan bale, hessian en sonneblomme te laat dink nie. Ons land het soveel streke dat só ʼn troue enige iets van Kalaharisand tot tropies kan wees. “Blomme” hoef ook nie tradisioneel net blomme te wees nie, natuurelemente en selfs die groentetuin kan swierig pronk op spoggeleentheid soos jou troue.
Kyk bietjie na hierdie oulike idees wat Sonja vir ons gegee het.
DIE GROENTETUIN EN BOORD OP JOU TAFEL
Deesdae is daar soveel pragtige groente variëteite op die mark dat jy enige dag ʼn fokuspunt, ruiker of tafelversiering met hulle kan maak. Dink maar aan die pragtige kleure spinasies en sierkool, selfs die verskillende kleure beet en wortels en moenie van die vrugte vergeet nie. Eetbare tafelruikers pas ook in by ʼn plaas atmosfeer en al fresco tendens, waar die seisoen se oes die tafels versier. Jy kan dit so formeel of informeel laat lyk soos wat jy wil, deur bloot te verander aan die manier waarop jy dit uitlê. Vir ʼn meer formele elegante gevoel, moet die versiering/ruiker meer simmetries wees en kan hessian vervang word met linne wat tekstuur het.
Kruie maak ook pragtige groen fokuspunte en is geurig. Vir ʼn meer romantiese gevoel kan iets soos laventel ingespan word.
Waarin en waarop jy díe tipe rangskikkings sit, dra ook baie by tot die atmosfeer en styl. Koper houers raak nou weer baie gewild en melkkannetjies en rottangmandjies is pure plaas.
TAKKE, BLARE EN KLIPPE
Jy hoef nie noodwendig ʼn massa blomme op jou tafel te hê om ʼn effek te kry nie. Ek het selfs al troues gedoen waar daar nie ʼn enkele blom gebruik was nie. Natuurelemente soos sand, klip, takke en houtstompe kan pragtig vertoon. Takke wat natuurlik of gespuitverf is kan baie elegant en tog steeds aards lyk, as dit in mooi houers gesit word. Dink ook aan die mooi tekstuur van sandsteenharte en herfsblare.
HANGENDE DRAADRUIKERS
Hangende blomme is groot nuus. Ogiesdraad hokkies of voëltjiehokkies vol blomme en kerse bo tafels skep ʼn sprokies en speelse atmosfeer met steeds daardie plaas/buitelewe gevoel.
STREEKGEBONDE SKOONHEID
Elke streek het sy bekoring. Die Vrystaat se plase het sy sandsteen, koringare, mielies en grasse, terwyl Natal varings, varkore, hibuscus, frangipani en ander tropiese natuurskoon het. Wynplase het wingerdblare en bouganvilla’s en die Knysna en die woudgedeeltes van die Oos-kaap oorvloedige dennebome en bessiebosse. Weskus mense het die hulle vetplante en die Kapenaars die mooi fynbos. Bring gerus jou streek na jou tafels toe en gee jou weergawe van plaasatmosfeer aan jou gaste.
SONJA SE BLOMMEWENKE VIR SELFDOEN-BRUIDE
- Hou jou blomme vars deur dit in lekker koue water te hou en weg van ʼn trek af.
- Spoel jou blomme en knip sowat 2cm van jou blomstele af voordat jy hulle in die water sit en kyk uit vir slymerigheid op die stele.
- Vind uit waarvan jou blomme hou. Nie alle blomme doen goed in oase nie.
- Laat ʼn bloemis jou gerus leer rangskik as jy onseker is, maar dit self wil aanpak.
- Jy hoef nie blomme net by die mark te koop nie, soms is jou plaaslike bloemis en boere van die omgewing ʼn beter roep.
- Moenie bang wees vir nuwe idees nie.
Artikel: Yolande van Deventer
Foto’s: Karoosie, Candi’s Floral Creations, Elizabeth Anne Designs, Glamour and Grace, Her Wedding Planning, Once Wed, Passion Flowers, Pebbles and Lace, Plan Wedding Now, Wedding Chicks, Rustic Wedding Chic