Trou-uitnodigings is die eerste element wat gaste van jou troue sien. Daarom moet dit nie net by jou troue pas nie, maar ook inskakel by die nuutste tendense. Heidi Henning van GreenRoots Design & Art Studio verklap watter tendense gewild gaan wees in 2017.
Maak seker dat jou trou-uitnodigings sommer al jou gaste se asems wegslaan nog voordat hulle by jou troue kom. Dit sal vir hulle ’n goeie aanduiding gee van wat om te verwag. Nie net bevat dit belangrike inligting oor die dag nie, maar dui ook aan wat die styl, kleurskema en aard van die troue gaan wees. Dink dus mooi voordat julle finaal besluit.
Hierdie trou-uitnodigings gaan gewild wees in 2017.
OUD IS WEER NUUT
Waksstempels is weer in die mode hierdie jaar! Saam met goue foiling is dit 2017 se top tendens vir trou-uitnodigings en skryfbehoeftes. ’n Kombinasie van goud en sagte, skoon kleure op mat-tipe papier het ’n treffende impak, wat gaste nog vir baie lank daarna sal onthou.
TROU-UITNODIGINGS MET KLEUR
Helderkleurige uitnodigings is hoogmode vir troues in 2017. Rose Quarts en Serenity (pers) pas vreeslik mooi bymekaar. Groen sorg vir ’n bietjie blom-inspirasie en skep kontras met die ander kleure.
TROU-UITNODIGINGS WAT BLOM
Bruide hou deesdae daarvan om meer van die troue by die uitnodigings in te bring, soos byvoorbeeld om die blomme wat by die troue gaan wees op die skryfbehoeftes te weerspieël.
MONOGRAM-MALLIGHEID
Monogramme is ook die in-ding hierdie jaar! Bruide is gaande oor die idee om hulle eie monogram op hulle trou-uitnodigings en skryfbehoeftes te hê.
RUSTIEK BLY MOOI
Die rofafgewerkte, rustieke tema bly steeds in die mode en daarom kies baie bruide aardse kleure en elemente, wat afgewerk is met sagte pastelle vir hulle trou-uitnodigings. Koningsblou werk ook goed saam met hierdie tendens.
Vir nog mooi idees en raad vir jou trou-uitnodigings, volg GreenRoots Design & Art Studio op Facebook.
Hooffoto: WeddingsOnline
Foto’s: Verskaf