Stres kan ’n lelike hindernis in die speek van jou troudag se geoliede wiel wees. Maak seker dat jou dag so kalm as moontlik verloop.
Party bruide is so opgewerk op hulle troudag, dat hulle skoon vergeet om dit te geniet. Hier is ’n paar handige wenke om te verseker dat jy nie die dag om stres nie.
As daar nou een waarheid in die lewe is, is dit beslis dat dinge gaan gebeur soos wat dit moet. Dit help nie jy stres daaroor nie, want dit gaan niks aan die saak verander nie. Troues werk eintlik dieselfde. Jy kan alles haarfyn beplan en stres daaroor, maar as die strooimeisie die troukoek omstamp en dit val flenters op die vloer, kan jy op die dag niks aan die saak verander nie. Jy kan óf toelaat dat dit jou hele dag bederf óf aangaan asof niks gebeur het nie en die dag ten volle geniet.
Hier is ’n wenke om jou te help om minder te stres op jou troudag:
DEEL TAKIES UIT
Die week voor jou trou, moet jy regtig die minimum self doen, om nie eers te praat van die dag voor jou troue nie. Maak ’n lysie van die laaste goedjies wat gedoen moet word en kies ’n verantwoordelike persoon om daarna om te sien. Vra ook vir jou strooimeisies om van die laaste goed vir jou te hanteer… dis hulle werk en sal hulle nuttig en spesiaal laat voel. Vergeet dan daarvan en moenie heeltyd rondbel om seker te maak dat alles gedoen is nie, want dit sal mense net frustreer en jou laat stres.
GAAN ONTSPAN BY DIE SPA
Bespreek die dag voor die troue vir jou en jou aanstaande ’n paartjie-bederf by die spa van julle keuse. Dit sal julle albei help om te ontspan en jou soos ’n prinses te laat voel. Julle sal ook kans kry om op te vang en saam ’n bietjie stilte en rustigheid te kry voor een van die mooiste en besigste dae in julle lewe aanbreek. Daar is nie ’n beter manier om julle laaste paar uur as ongetroudes te spandeer nie.
VERWAG DAT ALLES NIE PERFEK GAAN WEES NIE
Dinge verloop nie altyd volgens plan nie en dit is hoe jy dit hanteer wanneer dinge skeefloop, wat die verskil maak. Die gaste gaan nie weet van kleinighede soos die verkeerde koekmes en ’n blommemeisie wat weier om in die paadjie af te stap nie, so as daar nie ’n kabaal opgeskop word daaroor nie, sal almal dink dat alles seepglad verloop het. Verwag dit en aanvaar dit… dan kan jy net verras word en nie teleurgestel word nie. Dis nie die moeite werd om oor te stres nie.
DRINK BAIE WATER EN EET ONTBYT
Dit gaan ’n lang dag wees en die laaste ding wat jy wil hê is om voor die preekstoel om te kap. Maak seker dat jy ’n goeie ontbyt eet en heeldag iets (nie-alkoholies) byderhand het om te drink. Iemand wat gedehidreer is se asem is geneig om sleg te ruik – dit is iets wat jy liewer wil vermy. Kougom is natuurlik ook ’n nuttige item om naby te hê op jou troudag, maar moet dit nie kou tydens die seremonie en onthaal nie.
GENIET DIT
Die meeste bruide se raad is altyd dat jy moet probeer om soveel as moontlik in te neem van die dag en om dit te geniet. Jy beplan maande aan jou troudag en dit kos baie geld, so jy moet elke oomblik daarvan probeer geniet, want dit gaan so gou verby. Lag, gesels, dans, eet en maak herinneringe wat jy vir lank daarna sal koester. Dit help nie om dit weg te stres nie.
Foto: Fotolia
Die laaste eksemplare van Troukoors tydskrif se Spesiale Uitgawe is nou op die rak by Pick ‘n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels. Koop dit sommer vandag nog voor dit van die rak af verdwyn, of bestel dit saam met Die Trouboek direk by ons (teen spesiale pryse – saam posgeld steeds goedkoper vir beide).
Kliek hier vir meer info of om te bestel.