tafelplasings1
Die tafelplasings is aan die einde van jou beplanningsproses, nadat almal laat weet het wie kom. Maar dit is nietemin ’n belangrike deel van jou troue. Marilo van Bella Fiore gee raad sodat jy hierdie takie sommer maklik kan afhandel.

Tafelplasings is nie altyd ’n maklike taak om aan te pak nie, omdat dit dikwels gebeur dat sekere gaste se persoonlikhede soms ’n bietjie bots. Jy wil hê jou gaste moet hulle self geniet en onaangenaamheid so ver as moontlik uitskakel… maar daar is ook net soveel sitplekke, so soms is dit nogal ’n uitdaging. Hier is ’n paar goue reëls om jou hiermee te help:

Begin vroegtydig – Moenie tot twee dae voor die tyd wag nie. Maak lysies van gaste, hul verhoudings met mekaar, asook hul belange en begin sodoende groepies bymekaar sit. Trek sirkels op ’n A3-papier en kry post-it-vlaggies met elke gas se naam op. Plak en plak weer om ’n basiese idee kry van waar almal moet sit. Nou kan jy ook rond speel met gaste wat enkellopend is of wat nie baie van die ander gaste ken nie.

Die Hooftafel – Al die aandag gaan op julle wees, maak dus seker dat julle maklik sigbaar is. Julle kan besluit om alleen aan ’n romantiese tafel vir twee te sit, of die tradisionele roete te volg. As familie goed oor die weg kom, kan dit lekker gesellig wees om ’n groot feestafel in die middel van die gaste se tafels te dek. Gastetafels naby die hooftafel is gewoonlik vir die eregaste.

Logistiek – Kry ’n vloerplan van jou onthaalsaal en vind uit hoeveel mense aan ’n tafel kan sit. Begin met die hooftafel en die dansvloer. Onthou dat jou ouer gaste, verwagtende mammas en gestremde gaste naby uitgange en ander fasiliteite geplaas moet word, en ook verkieslik verder weg van die musiektoerusting. Jou jonger gaste kan nader aan die dansvloer geplaas word. Jou seremoniemeester en DJ moet naby die musiektoerusting en mikrofoon wees. As kinders ook genooi is, kan jy hulle in ’n hoekie sit en besig hou met inkleurboekies en ’n paar speelgoed wat nie raas nie.

’n Gesellige atmosfeer – Gaste moet ten minste een ander persoon op dieselfde tafel ken en verkieslik nie saam met iemand sit met wie hulle vassit nie. As daar gaste is wat niemand anders ken nie, kan jy ’n uitsondering maak dat hulle ’n metgesel kan saambring. Vermy ’n tafel vir enkellopendes, waar niemand mekaar ken nie. Deel eerder die enkellopendes in saam met paartjies, tensy die enkellopendes mekaar ken en lekker saam kuier. Plaas die gastetafels so dat familie en vriende gemeng is, hulle kan op so manier sosialiseer en mekaar beter leer ken.

Wees kreatief – Dis dalk beter om tafelname in plaas van tafelnommers te gebruik (dan voel tant Sannie, wat op tafel 9 sit, nie minder belangrik as oom Piet, wat op tafel 3 sit nie). Vir kleiner troues kan jy kaartjies by die ontvangsdrankies sit met gaste se name en hul tafelnommers op. Vir groter troues is ’n tafelplan nodig, maar gee die gaste genoeg tyd om hulle plekke te kry. Jy kan ook jou tafelplan agterop jou kerkprogram druk sodat elke persoon hulle eie tafelplan kry. Nog ’n goeie idee is om ’n gastelys vir die koördineerder of jou troubeplanner te gee, sodat hulle gaste kan help om hulle plekke te kry.

tafelplasings3

Ongelukking is hierdie takie een wat jy en jou geliefde self moet uitpluis, niemand ken die dinamika van jou vriende en familie se verhoudings so goed soos julle nie. Jou gaste sal ook spesiaal voel, aangesien jy tyd geneem en moeite gedoen het om vir elkeen ’n spesiale plekkie te soek. Maar moenie te veel stres nie, almal is daar om te kuier en op te vang met ou familie en vriende!

Foto’s verskaf

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA