Inspirasie is net wat jy nodig het om die perfekte Lentetroue te beplan. Pastelkleure en speelsheid kraai koning in vandag se gestileerde fotosessie.
Dit is nie noodwendig goed om tendense slaafs na te volg nie, omdat jy tog eg moet bly aan wie jy is en waarvan jy hou wanneer jy troue. ’n Bietjie inspirasie het egter nog nooit skade gedoen nie. Elize Mare Wedding Photography deel idees vir wanneer jy in die Lente trou, wat nou om die draai is.
WAT WAS DIE INSPIRASIE VIR HIERDIE FOTOSESSIE
“Met die Lente wat om die draai is, wou ek ’n speelse voorkoms skep, wat anders is as die gewone troue. Ons het selfs die tipe rok gebruik wat maklik van ’n stylvolle trourok na ’n gemaklike partytjierok kon verander.”
WAT WAS DIE KLEURSKEMA?
“Ons het besluit op waterverf-pastelkleure soos pienk, pers en blou. My inspirasie kom van ’n rok wat ek by ’n trouskou raakgeloop het.”
HOEKOM HET JULLE OP LENTE AS TEMA BESLUIT?
“Omdat dit speels, vrolik en elegant is. Lente simboliseer ’n nuwe begin en ek voel dis relevant, omdat dit presies is wat ’n bruidspaar doen wanneer hulle trou.”
WATTER KLEURE IS TANS GEWILD VIR TROUES?
“Pienk, blospienk en roosgoud is baie gewild en die skakerings is ook die inspirasie agter De la Mas Venue se bruidsuite.”
WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE BLOMME EN DEKOR WAT GEBRUIK IS?
“Ons het hoofsaaklik gefokus op pienk en Janique van The Prettiest Things het ’n ruiker blomme saamgestel, wat perfek by die dekor en tema gepas het. Sy het ook die pastelkleurige tafeldoek gemaak.”
WATTER DANKIEGESKENKE IS TANS GEWILD?
“Enigiets wat gaste kan huistoe vat en geniet of weer gebruik, is ’n goeie idee. Maak kolwyntjies en verpak dit in flessies – dit is mooi en lekker.”
WAT IS JOU RAAD VIR PAARTJIES WAT OP TROU STAAN?
“Jou troue en tema is net so uniek soos jy. Volg jou hart en gebruik die inspirasie wat jou gelukkig gemaak.”
As jy nog inspirasie soek vir jou troue, volg ons op Pinterest en Instagram.
DIENSVERSKAFFERS
Venue: De la Mas Venue
Blomme en dekor: The Prettiest Things
Skryfbehoeftes: Zhoosh Stationary Design
Troukoek: The Turquoise Squirrel Patisserie
Foto’s: Elize Mare Wedding Photography
Trourok: New Romantics Bridal Couture
Hare en grimering: Isma Theron-de Witt van Beauty and the Brush
Dankiegeskenke: Candy Wasted & Co.
Kousband: Miss G
Juwele: V’Dodili deur Erika Cronje