Die eerste dans as man en vrou is vir paartjies baie belangrik. An-Sophie Lourens verklap alles wat jy moet weet om hiervoor voor te berei.

As jou beurt naby is om die knoop deur te haak, mag jy dalk gemengde gevoelens ervaar as jy die woorde “die eerste dans” hoor. Dit is heeltemal normaal, want indien jy nie ’n professionele danseres is nie, dans nie jy of jou man elke dag voor mense nie.

Eerstens, kry die nagmerries uit jou kop uit. Dit is hoogs onwaarskynlik dat jy jou enkel sal swik of jou rok sal skeer juis tydens die eerste dans. Musiek en dans bring passie, veral as dit saam die man van jou drome is. Vul eerder jou gedagtes met die idee.

Maak nie saak of jy of jou man, of albei van julle, nie eers ritme kan hou op die Macarena nie, dit gaan julle beste eerste dans nog wees. Gaan miskien vir ’n klas of twee om ’n bietjie ekstra oefening op die dansvloer te kry. Kies ’n liedjie wat nie vir julle gaan ore aansit nie en wat die ritme gaan vergemaklik. As jou verloofde te skaam voel vir klasse, vra ’n ander paartjie om saam met julle te gaan. Selfs net ’n vriend of ’n vriendin wat koning kraai op die dansvloer kan voldoende wees vir ’n bietjie leiding.

Kies ’n liedjie wat julle gaan laat vergeet van die gaste. ’n Liedjie wat julle terugvat na ’n spesiale oomblik toe of spesiale woorde wat julle sal kan koester. Partykeer as ’n mens se aandag van die oë op jou gerig afgetrek word, en jy meer ontspanne voel, kom die dans en die ritme vanself. Besluit saam watter liedjie gaan vir julle albei die meeste beteken.

Of al het jy die manne se knieë lam gemaak met jou passies by die sokkie op hoërskool, wees maar versigtig met te uitspattige draaie en swaaie. Eerstens jou rok moet die bewegings toelaat. ’n Mens is vol emosie en opwinding op daardie stadium, wat kan maak dat die passies nie na wense uitgevoer kan word nie. Net omdat jy kan dans, is dit nie te sê jou man gaan dieselfde ritme aanvoel nie. Beplan goed voor die tyd waartoe julle in staat is en waarvoor julle kans sien vir julle eerste dans.

HOE OM TE BEGIN VOORBEREI VIR DIE EERSTE DANS
* Kies ’n liedjie wat julle graag op sal wil dans.
* Besluit of julle dansklasse gaan wil neem. Indien julle besluit om klasse te neem, vind uit waar julle dit kan doen. Dit kan help om vir vriende wat reeds getroud is te vra vir aanbevelings.
* Indien julle nie klasse wil bywoon nie, besluit hoe julle eerste dans moet lyk en oefen ’n paar keer.

Op die dag van die troue:
* Maak seker julle altwee weet hoe lyk die uitleg van die dansvloer. Gebruik al die spasie op die dansvloer, almal wil immers julle eerste dans sien.
* Maak seker julle platejoggie het die regte liedjie en die regte weergawe van die liedjie waarop julle die eerste dans wil dans.
* Ontspan en geniet die eerste dans saam jou man!

As jy jou man se hand vat en op die dansvloer stap vir julle eerste dans, is dit die eerste tree van ’n groter dans. Soms gaan julle op vrolike liedjies dans en ander kere sommer net stadiger dans. Daar gaan tye wees wat julle van ritme af is en soms gaan jy op sy voete moet staan. As hy jou laat val, laat toe dat hy jou weer optel, as jy op sy tone trap, vra onverskoning. Draai en lag, waag en trap mooi. Dans totdat die liefde heeltemal oorneem.

Foto:  One Wed

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA