’n Blommetema, in helder kleure, is die perfekte manier om die opwinding van jou groot dag vas te vang. Velani Venter Photography deel hierdie mooi fotosessie met ons.


Troues word geassosieer met vrolikheid, vlinders en liefde. Daarom is die dekorkeuses wat jy maak uiters belangrik, omdat dit die atmosfeer wat gaan heers skep. ’n Blommetema kan die mooi van jou troue perfek vasvang, net soos wat hulle in vandag se fotosessie ’n pragtige atmosfeer geskep het. Ons het meer gaan uitvind oor die inspirasie agter hierdie sessie met sy blommetema.

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE VASVANG MET HIERDIE FOTOSESSIE?
“Almal sien altyd iets mooi op Pinterest, maar min mense kry die geleentheid om dit self af te neem. Dit was die inspirasie agter hierdie sessie, ek het die idee gesien en lewe gegee daaraan op kamera. Ons wou graag ’n perd gebruik en dit kombineer met ’n blommetema om vas te vang dat Lente om die draai is. Die foto’s is op ’n vriendin, Jean-Marie, se perdeplaas net buite Secunda geneem.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA VAN HIERDIE SESSIE MET SY BLOMMETEMA?
“Die goue strale van die son was die hoof kleurbron en ons het dit gekombineer met verskillende skakerings van pienk, pers en groen.”

WATTER KLEURE, WAT TANS GEWILD IS, WAS DEEL VAN JULLE FOTOSESSIE?
“Pienk is die perfekte kleur om die Lente en blommetema te komplementeer. Dit trek ook baie aandag, omdat dit helder is.”

HET JULLE IETS SELF GEMAAK VIR HIERDIE SESSIE?
“Ons het die blommekrans self gemaak wat pragtig ingeskakel het by die blommetema van hierdie sessie. Kry die aanwysings om die self te maak, hier.”

WATTER TIPE DANKIEGESKENKE IS TANS GEWILD EN SAL INSKAKEL BY ’N BLOMMETEMA?
“Ek hou van vetplante, maar dit kan nogal duur wees. Klein huisplantjies, wat nie meer as R20 elk sal kos nie, kan ook baie goed werk.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE?
“Moenie net aanneem dat minder meer is nie. Ek is mal oor bruide wat moeite doen met hulle troues, want jy kan die eindresultaat duidelik sien in die foto’s. Wissel groenigheid af met ’n bietjie kleur en voeg ekstra blomme by jou handruiker. Selfs die kleinste detail, maak ’n groot verskil op jou foto’s.”

Jy sal ver soek om mooier inspirasie te kry as ’n blommetema iets is wat jy vir jou eie troue oorweeg. Lekker beplan!

DIENSVERSKAFFERS
Blomme: Fresh Ideas
Dekor: Mintage Decor Hire
Troukoek: Sublime Cakes
Fotograaf: Velani Venter Photography
Trourok: Verlief
Hare: Monic,s Hair Creations
Grimering: Corlea Maré
Model: Joanita Visser
Perd en stilering: Jean-Mari Van Schalkwyk

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA