Eetgerei en borde wat ’n stelling maak, is nou een van die grootste tendense by troues. Minette Badenhorst kyk ons meer in diepte hierna.

Die eetgerei en borde by troues vorm nou baie meer deel van die dekor as in die verlede. Deesdae word dit gesien as noodsaaklike dekor-elemente en nie net as funksionele items nie.

Deur jou eetgerei en borde meer modern te maak, kan jy verseker dat jou tafeldekor ʼn volledige prentjie vorm. Goud en roosgoud is deesdae hoogmode vir troudekor, en dit word ook nou al hoe meer ingebring deur eetgerei en selfs borde. Dit trek daardie “goue draadjie” deur van die algehele troudekor tot jou tafeldekor. Ons is versot op Two Birds se eetgerei en borde. Die kombinasies is stylvol, tog modern.

Marmerborde, of borde met goue / roosgoud detail is pragtig en oral te sien op die trouwebblaaie. Delft en goud is ʼn absolute pragtige kombinasie en een van ons gunstelinge, wat sal uitstaan op al die beste maniere.

Goue eetgerei met verskillende steelkleure (soos wit, blou, pienk, grys en swart) het ook ons oog gevang. Dit gee ook daardie ietsie anders aan jou tafeldekor. Die gekleurdesteel-eetgerei bring vir jou ekstra kleur by die tafeldekor, wat jy saam met meer eenvoudige borde kan stileer om mooi uit te balanseer.

Swart eetgerei is ook nou besig om gewild te raak, en dit is net ʼn kwessie van tyd voordat dit ook in die troubedryf gaan vlamvat. Dit lyk pragtig saam met roosgoud of goud en ook wit. Wissel die kleure tussen jou eetgerei en borde vir verskillende effekte.

Daar is ook nou soveel verskillende bordvorms beskikbaar, wat jou toelaat om bietjie met dit rond te speel en dus jou gaste se oë so te vang. Kombineer byvoorbeeld ʼn ronde bord met ʼn onderbord van ʼn ander vorm of patroon, en jy skep heeltemal ʼn nuwe voorkoms. Vir buffetstyl-troues, waar jy nie noodwendig borde op die tafels het nie, kan jy dit inbring deur pragtige onderborde te gebruik. Daar is soveel verskillende pragtige onderborde beskikbaar wat jy saam met jou moderne eetgerei kan stileer om jou tafels mooi af te rond.

Stileer die eetgerei en borde saam met pragtige eenvoudige of gekleurde glase wat by jou kleurskema pas, en jy het ʼn wennerkombinasie.

Foto’s: Two Birds en Pinterest

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA