Detoks kan ’n baie groot verskil maak wanneer jy jou vel en liggaam voorberei vir jou mooiste dag. Danielle Barfoot vertel meer oor die voordele hiervan.
Met so baie om te doen voor jou groot dag, het jou liggaam al die ondersteuning nodig wat dit kan kry. Hoekom maak jy nie detoks deel van jou skoonheidsvoorbereiding voor jou troue nie? Die voordele daarvan maak dit beslis die moeite werd!
Al die belanning en voorbereiding wat gepaard gaan met die reël van ’n troue, maak dit maklik om jou liggaam se behoeftes te ignoreer. Die stres wat gepaard gaan met die beplanning van jou groot dag kan nie net jou liggaam se vermoë om gewig te verloor belemmer nie, maar dit kan ook daardie pragtige, gelukkige glans bederf wat bruide graag wil hê. Stres en slegte leefstylgewoontes kan lae energievlakke, winderigheid, slapelose nagte en selfs ’n toename in gewig tot gevolg hê, asook lewelose vel en ’n uitslag. Daarom het jou liggaam al die ondersteuning en ’n behoorlike detoks nodig wat dit kan kry voor jou groot dag.
Detoks sal nie net jou liggaam help om sy natuurlike balans te herstel nie, maar sal ook gewigsverlies, nuwe energie, ’n beter vel en helder oë tot gevolg hê! Daar is wel baie produkte wat ontwerp is om jou liggaam te detoks, maar jy kan tog pragtig lyk sonder spesiale detoksmiddels omdat die liggaam geneig is om self gesond te word wanneer slegte leefstylgewoontes uit die weg geruim word – soos te veel alkohol, verwerkte voedsel, vet en suiker, asook rook.
Om te detoks hoef nie ingewikkeld of duur te wees nie. Hier is ’n paar eenvoudige idees vir jou eie detoksprogram voor die troue:
• Spoel dit weg – Drink ’n glas warm water met varsuitgedrukte suurlemoensap in voor ontbyt. Dit sal help om die gifstowwe uit jou niere te spoel.
• Sit die vog terug – Die sleutel tot ’n gesonde vel is om dit behorlik te bevogtig. Wanneer jy te min vog inneem kan jy dehidreer, wat ’n invloed sal hê op jou vel en jou plooie meer sigbaar maak, dit kan ook lei tot slegte asem en selfs jou kop dof laat voel. Probeer om 2 liter water per dag te drink wanneer jy detoks. Voeg ’n skyf vars suurlemoen of komkommer by vir ekstra geur.
• Hou die detoks eenvoudig – Eet klein hoeveelhede gaar, rou of liggies gestoomde kos en vermy enige iets wat gebraai, verwerk, gebak of gepekel is. Probeer eerder vrugte, groente, sade, neute en spruite. Jy kan ook eksperimenteer met maaltye wat net uit een bestanddeel bestaan soos om soveel druiwe te eet soos jy wil, of weg te lê aan ’n hele bakkie waatlemoen.
• Drink sap – Sluit vars vrugtesap of ’n smoothie in jou daaglikse dieet in. Vars uitgedrukte sap kan jou vel beter laat lyk en jou energievlakke verhoog.
• Kom weg van alles af – Gaan vir ’n joga-sessie, vat ’n ontspannende bad of gaan stap in die vars lug. Dit sal jou liggaam en verstand kans gee om te rus en jou verfris laat voel. Weerhou jouself daarvan om te dink of te stres oor alles wat nog gedoen moet word voor die troue.
Hou in gedagte dat wanneer jy jou kosinname beperk, jy ook die hoeveelheid energie wat deur jou liggaam opgeneem word beperk asook die inname van belangrike nutriënte wat noodsaaklik is vir goeie gesondheid. Die beste benadering is ’n gebalanseerde dieet, met ten minste vyf porsies vrugte en groente per dag, volgraanprodukte, maer proteïen en lae-vet suiwel. Detoks kan jou regtig help om stralend te lyk op jou mooiste dag.
Foto: Square Space