Airbrush-grimering op jou troudag klink dalk vir jou soos jou grootste droom. An-Sophie Louerns vertel jou presies hoe hierdie tegniek werk.

Airbrush-grimering is grimering wat op jou gesig gesproei word met ’n sproeigrimeertoestel. Dit mag dalk vir jou klink of jy eerder soos ’n hanswors daaruit gaan stap, maar dit is glad nie die geval nie. Indien dit reg aangewend word, gaan jou vel spieëlglad en glansend vertoon. Hier is ’n paar voor- en nadele van Airbrush-grimering vir jou troudag.

VOORDELEꓽ
• Dit is ’n 24-uur waarborg. Dit is op ’n silikoonbasis gebaseer, so dit is meer waterbestand, sowel as traanbestand. So as jy weet jou dag hou trane vir jou in, is dit dalk ’n baie goeie opsie. Airbrush-grimering smeer ook nie vinnig af nie, so deur die gedruk en soen kan jy nogsteeds ’n mooi gesiggie wees.
Airbrush-grimering sorg vir vlekkelose afronding. Enige tienervlekke of letsels wat jy dalk al opgedoen het, kan maklik verdwyn met die afronding. Dit maak jou foto’s sommer nog meer sprankelend.
Airbrush-grimering het ’n manier om jou natuurlik sprankelend te laat lyk, met ’n minimale gebruik van grimering. Dit lyk nooit te dik of onnatuurlik kleurvol nie.
• Dit kan ook in egalige lae aangewend word, aangesien dit so ’n dun lagie is en maklik droog word. Dit hang dus van person tot person af hoe baie jy op jou vel nodig gaan hê.

NADELEꓽ
• Dit kan vlokkierig wees op jou vel. Airbrush-grimering werk wonderlik op gehidreerde, bevogte veltipes. Indien jy ’n droë vel het kan dit vlokkierig raak, omdat die basis van die grimering baie minder romerig is as tradisionele grimering.
• Dit is baie moeilik om weer oor die Airbrush-grimering te grimeer. Sou jy dan nou perongeluk begin afdop of jou trane is dalk te groot vir die geleentheid, gaan dit moeilik wees om jou grimering vinnig net weer reg te ruk. Dit is wel ’n uitsondering en sal slegs gebeur as jou Airbrush grimering nie heeltemal droog geraak het nie.
• Die kleurskakerings van Airbrush-grimering is wel beperk. Dit verskil van die kleurskakering van alledaagse grimering en daar is ook nie so groot verskeidenheid produkte op die mark beskikbaar nie. Jy mag dalk ondervind dat tradisionele grimering se kleurskakering beter op jou vel lyk.
• Dit is ongelukkig duurder as jou gewone grimering, aangesien dit nie so groot mark soos tradisionele grimering is nie. As jy dus dan vir jou strooimeisies se grimering ook betaal, mag dit dan nie so koste effektief wees nie.

WENKE:
• Gaan vir ’n paar proeflopies met grimering vir jou troudag. Kyk hoe reageer die Airbrush-grimering op jou gesig of hou jy meer van tradisionele grimering. Gee albei ’n kans en maak dan die besluit, as om eerder net hals oor kop te besluit of om iets te kies wat in jou gemakzone is.
• As jy vir jouseslf mooi lyk, doen dit. Vrouens is dikwels te bang om bietjie rooier lipstiffie op te sit of om bietjie hoër skoene aan te trek, want “dit is nie ek nie.” As jy goed voel, voel goed met selfvertroue en sit daai bloedrooi op jou lippe.

Airbrush-grimering is nie vir die sirkus bedoel nie, maar as dit nie gaan akkomodeer met jou vel nie, moet dit eerder nie druk om dalk vir die sirkus oorweeg te word nie. Weeg jou voordele en nadele op. Dit gaan nie van jou ’n spesialer bruid maak nie, maar as dit vir jou werk, gaan en gaan verf jou gesig.

Foto: Kimberley Bosso

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA