’n Wit trourok is tradisioneel die regte keuse, maar wat sê die moderne tendense? An-Sophie Lourens het by ’n regte bruid gaan kersopsteek hieroor.
’n Tradisionele wit trourok is deesdae nie meer ’n moet nie. Baie bruide is maar senuweeagtig om buite die lyne van tradisie te beweeg en wonder hoe mense gaan reageer. Anmarli van der Merwe deel haar droomtroue in die rooi Kalahari-sand met ons.
WOU JY VAN DIE BEGIN AF IETS ANDERS AS ’N TRADISIONELE WIT TROUROK HÊ?
“Definitief, ek wou nie hê dit moes net nog ’n wit trourok wees nie. Ek wou ook ’n kreatiewe rok hê, want daar is iets aan elke trourok wat vir ’n mens ’n storie vertel. As ek dit weer moet doen, sou ek tien teen een meer swart ingesit het.”
IS DAAR SPESIFIEKE MOTIVERING VIR DIE ROK WAT JY GEKIES HET?
“ Die feit dat ons in die winter getrou het, asook op die plaas met rooi Kalahari-sand, het my keuse gemotiveer. Ons kleurskema was ook swart, so ’n tradisionele wit trourok sou nie so mooi daarby ingeskakel het nie.”
WIE HET JOU ROK ONTWERP EN GEMAAK?
“Janita Toerien het my rok gemaak en ontwerp. Sy het presies verstaan wat ek wil hê en dit net so gemaak. Alles het goed volgens plan verloop. Ek het genoeg tyd toegelaat vir die maak van die rok, wat my baie gerus gestel het. Ek dink soos dit met enige bruid gaan, verloor ’n mens maar ’n paar kilogram voor die groot dag. Dit was die enigste verstelling wat hulle moes maak, maar verder het alles seepglad verloop.”
WAT WAS JULLE GASTE SE REAKSIE OMDAT JY NIE DIE TRADISIONELE WIT TROUROK GEDRA HET NIE?
“Ek het baie kritiek verwag oor my rok. Dit is nie tradisioneel nie, maar ek was aangenaam verras met die positiewe reaksie. Ek dink dit was glad nie iets wat enige gas verwag het nie. Die rok het bygedra tot die dramatiese atmosfeer van die dag.”
HET JULLE DIE STROOIMEISIES SE UITRUSTINGS VOLGENS JOU ROK BEPLAN?
“Ek het nie spesifiek beplan dat die strooimeisies swart moes dra nie. Ek het praktiese rokke verkies vir die sand op die plaas.”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE WAT NIE IN ’N TRADISIONELE WIT TROUROK WIL TROU NIE?
“My enigste raad is, DOEN DIT! Moenie bang wees om anders te wees nie.”
VERTEL ONS ’N BIETJIE MEER OOR JULLE SPESIALE DAG EN DIE TEMA?
“Ons het op ons familieplaas, in die Kalahari, ’n naweektroue gehad. Daar was geen water of elektrisiteit voor die troue op die plaas nie. Ons het alles self gedoen, van die water aanlê, elektrisiteit en die kos! Die meeste van die dekor is van Johannesburg af aangery. Van ons 208 gaste, was die meeste van Pretoria af en dus het hulle op die plaas gekamp.”
Anmarli erken met al die reëlings was alles nie heeltemal klaar en reg nie, maar so tussendeur die choas, was daar twee dinge waaroor sy baie seker was, haar trourok en haar toekomstige man. So moenie meer huiwer nie, leef jou droomtroue uit en moenie ’n tradisionele wit trourok dra as jy nie kans sien nie!
DIENSVERSKAFFERS
Dekor: GONK
Stoele: Goeters
Trourok: Janita Toerien
Kousband: Zanne Couture
Koekversierings: Mini Me and You
Foto’s: Deur Bruid Verskaf