Potplante is die nuutste gier onder paartjies wat trou. Nie net omdat dit mooi inskakel by die groenigheid wat tans koning kraai nie, maar ook omdat dit oulike dankiegeskenke is. Minette Badenhorst vertel jou meer hieroor.

Een van die nuwe gewilde tendense in terme van blommedekor is om blomme te kies wat net so in hulle potjies op die tafels geplaas kan word. Dit is maklik en spaar tyd met die rangskikkings, maar dit lyk steeds pragtig en elegant. Dit is perfek vir die minimalistiese bruid. Ons loer deel ’n paar pragtige idees vir potplante op jou troudag.

POTPLANTE OP DIE TAFELS
Orgidieë, laventel, kruie, kaktusse en vetplantjies is almal opsies wat in potjies op die tafels geplaas kan word. Dit skep ʼn pragtige prentjie en gee ʼn baie natuurlike gevoel. Selfs klein boompies in potjies kan so gebruik word.

POTPLANTE OP DIE GROND
Groot potte met blomplante kan op verskeie plekke geplaas word. Een idee is om dit by jou tafelplasing of verloop van diensbord neer te sit, vir daardie ietsie ekstra.

POTPLANTE LANGS DIE PAADJIE NA DIE KANSEL
Variasies van groot en klein blomplante in potte kan teen die kant van die paadjie geplaas word. Dit gee ʼn asemrowende effek en lyk pragtig op foto’s. Selfs groot kaktusse kan gebruik word, en dit lyk so mooi. Dit is verseker iets anders en sal jou gaste tweekeer laat kyk.

Hierdie is so ʼn oulike tendens. Die verskeidenheid van beskikbare potplante wat beskikbaar is, is ongelooflik en dit kan beslis ingespan word om enige denkbare tema te skep en af te rond. Die vele opsies wat hierdie eenvoudige, tog uitspattige dekor die bruid bied het ons harte gewen. Hou wel in gedagte om dit nie te oordoen nie, want less is more. Nie net bespaar dit tyd met die rangskikking daarvan nie, maar dit kan ook weer hergebruik word. Jy kan dit in jou huis sit of in jou tuin gaan oorplant.

Foto’s: Pinterest

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA