Troukoek het oor die jare baie verander en al elke vorm en smaak denkbaar aangeneem. Tanja Kitching van Castello Di Monte verklap wat die nuutste tendense onder bruide is.
Troukoek bly nou maar een maal ’n gewilde item by troues. Dit is net die vorm, smaak, styl en kleur wat gereeld verander. Castello Di Monte se kenners verklap wat tans gewild is en wat in die nabye toekoms steeds gaan koning kraai.
LOSSTAANDE TROUKOEK
Alhoewel hierdie neiging vir ’n tydjie afgeneem het, is dit nou terug in volle swang. Troukoek met verskillende lae word verruil vir enkellaagkoeke, wat op verskillende hoogtes geplaas en mooi versier word.
SWART IS TYDLOOS
Tradisionele wit- op pastelkleurige troukoek is nie meer so gewild nie. Bruidspare is deesdae baie meer waaghalsig en het ’n sin vir dramatiese elemente en klere. Daarom is elegante swart troukoeke met goue afwerkings besig om stadig in te beweeg.
NAGEREGTAFELS
Troukoek staan deesdae nie meer alleen op ’n tafel rond nie en dit is ook nie meer “sommer ’n nagereg ook” nie. Pragtige nageregtafels, met verskeie lekkernye soos kolwyntjies, makrolletjies, pasteie en oliebolle is deesdae ’n algemene verskynsel.
GROOT IS BETER
Alhoewel sommige bruide losstaande troukoeke verkies, is dit ook die jaar van groot asemrowende skeppings wanneer dit by troukoek kom. Twee- en drielaag-troukoeke word vervang met tot agt of nege lae en is ware kunswerke.
Troukoek is nie so ’n eenvoudige keuse soos wat jy dink nie, want deesdae is daar baie oorwegings om in gedagte te hou. Maak seker jy kies die beste opsie vir julle!
Foto: Freepik