Trompie en Mareike se troue by Euphoria Golf Estate and Hydro in Naboomspruit het amper nie plaasgevind nie. Maar gelukkig het hierdie bruid se sprokie tog ’n realiteit geword…
Troues is harde werk. Tonne beplanning word gedoen, reëlings word getref, geskenkies word gemaak en daar word baie moeite gedoen om te verseker dat die dag mooi en seepglad verloop… ’n mens trou darem mos net een keer en die dag moet perfek wees.
Dié beplanning gaan natuurlik ook gepaard met baie stres en paartjies, gesinne en vriende stamp baiekeer koppe omdat alles begin draai om daardie spesiale agt ure wat in ’n oogwink verby is. Maar wat as al daardie beplanning nutteloos is, omdat een van die bruidspaar die dag voor die tyd doodgaan?
Trompie en Mareike se verhaal het amper so geïndig, maar gelukkig het God hulle bewaar en vir hulle ’n splinternuwe begin gegee…
“Dit is die Vrydagmiddag voor ons troudag en ons is op pad van Pietersburg af Naboomspruit toe waar ons mooiste dag gehou gaan word. Ek, my ma en skoonsus het saam in een kar gery… en my aanstaande voor ons in sy bakkie. Hy het die sleepwa gesleep met al ons trougoejies (konfetti-horinkies en -houers, tafelversierings, tafelname en –rame, bruin papiersakkies met Pringles, biltong en Pretzels in, druiwesap, sjampanje, glas nagmaalvaas, skouerruikers, malvalekkers vir die lekkergoedtafel, handgemaakte malvalekkerbraaiertjies, ensovoorts) in.
Ons meisies moes toe gou stop om iets by ’n vriendin in die dorp op te laai en hy het verder vooruit gery. Ewe skielik lui my selfoon. Dis Trompie en hy klink vreeslik geskok. Hy vertel my dat hy pas in ’n groot ongeluk was en dat ’n trok hom byna doodgery het. Dit voel asof my hart wil gaan staan. Maar ek voel verlig dat hy darem nog met my kan praat.
Die toneel wat ons begroet toe ons by die plek aankom waar die ongeluk gebeur het, is aaklig! Stukke van die bakkie lê in die pad, die waentjie lyk soos ’n opgefrommelde koeldrankblikkie. Die bakkie staan aan die oorkant van die pad in die veld, met ’n groot 36 ton Interlink-trok ’n hele entjie voor dit. En sover as wat jy kan sien, lê vlenters van ons troudekor, eetgoed en drankies oor die pad versprei. Beslis nie ’n gesig wat ’n bruid die dag voor haar troue wil sien nie.
Maar ek is net vaagweg bewus van die chaos rondom my. My hart klop asof dit uit my borskas wil spring en my oë soek angstig na die man vir wie ek so ongelooflik lief is. En skielik kom hy uit die veld uit geloop. Ek kan my oë nie glo nie… hy makeer niks. Hy het uit daardie wrak geklim en hy lewe! Ek bars in trane uit en hardloop na hom toe en ons gryp mekaar vas. Ek was nog nooit ooit so dankbaar soos op daardie oomblik nie en kan net die Here prys vir sy bonatuurlike beskerming!
Ons dag het nou wel nie al die detail gehad wat ons graag wou hê nie, want dit lê stukkend in die pad. Maar die belangrikste was dat ons albei daar kon wees en voor die preekstoel kon staan. Vir my was die hoogtepunt van daardie dag die oomblik wat ek, aan my pa se arm, met die paadjie kon afstap na die man wat God vir my gekies het. Want dit het amper nie gebeur nie. ’n Troue gaan op die ou einde oor baie meer as die detail, dekor, rok en gaste… dit gaan oor die liefde tussen twee mense en die plan wat God vir hul lewe saam het.”
Gelukkig het hierdie verhaal ’n mooi en gelukkige einde… maar elkeen se storie is anders. So maak seker dat jy nie so vasgevang word in detail van jou alledaagse bestaan dat jy vergeet van die mense wat daardie bestaan die moeite werd maak nie.
Fotograaf: Ansie Bester Photography