Jou groot dag is hier en jy wil graag die blosende bruid wees waarvan almal praat… al is jou begroting ’n bietjie knap. Hier is ’n paar doen-dit-self-resepte waarmee jy en jou bruidsmeisies julself kan bederf. ’n Facial by die huis, kan net so lekker wees as een by die spa.
Mooilyk op jou troudag hoef nie jou spaarvarkie te breek nie. Lyk mooi met bestanddele uit jou koskas!
Gesigmasker vir ’n probleemvrye vel
Bestanddele
1 ryp piesang
1 teelepel heuning
1 geklopte eier
Doen dit so…
Druk die piesang pap en voeg die heuning en eier by.
Druk die mengsel deur ’n sif en smeer dit aan jou gesig- en nekarea.
Los dit vir 10 tot 15 minute op jou gesig en was dit dan af. Jou vel sal soepel en glad voel.
Gesigmasker vir ’n droë vel
Bestanddele
1 eiergeel
3 druppels amandelolie
Doen dit so…
Meng die bestanddele goed en smeer dan ’n dun lagie van die mengsel aan jou gesig.
Los dit vir 10 minute aan en was dit dan af. Jou vel sal soepel en blosend lyk.
Gesigmasker vir ’n olierige vel
Bestanddele
1 eierwit
3 druppels suurlemoensap
Doen dit so…
Klop die bestanddele saam en smeer die mengsel in ’n eweredige lagie aan jou gesig- en nekarea.
Los dit vir 10 minute aan en was dit dan af. Jou vel sal gesond en soepel lyk.
Bederf jou hande
Maak ’n afskilferingsbehandeling vir jou hande deur suiker en olyfolie te meng en jou hande daarmee te skrop. Jou trouring sal dan skitter aan ’n hand wat glad en gesond lyk.
Bederf jou lyf
Maak ’n afskilferingsbehandeling vir jou lyf deur suiker en avokado-olie te meng en jou lyf daarmee te skrop. Jou afskouertrourok en wittebroodbaaibroek sal op hulle beste vertoon teen jou seepgladde vel.
Maak jou lippe soen-mooi
Laat jou lippe op hulle beste vertoon deur liggies met ’n tandeborsel, wat in suiker gedoop is, daaroor te vee.
Probeer hierdie resepte. Dis goedkoop en as dit vir jou werk, kan jy dit in die toekoms weer herhaal. Jy sal verbaas wees oor die eindresultaat!
Artikel: Bianca Havenga