Aankondigings moet baie spesiaal wees. Dit is immers ’n boodskap aan die wêreld dat julle beplan om die res van julle lewens saam te spandeer. Hier is wat jy moet weet wanneer jy die nuus met jou geliefdes deel.
Amper net so opwindend soos die oomblik wanneer jy gevra word om te trou, is wanneer julle die wonderlike nuus met die wêreld deel. Hier is ʼn paar oulike idees oor die moets en moenies van aankondigings:
ETIKET
NEEM DIE OOMBLIK IN
Daar is ʼn grappie wat sê dat iets nie werklik is voor dit nie op sosiale media verskyn nie, maar dit kan die spesiale oomblik bederf as julle dit dadelik vir die wêreld wil uitbassuin. Neem ʼn tydjie vir julself en wees saam opgewonde oor die groot stap. Bespreek julle drome en ideale oor die troue en kyk na ander aankondigings vir inspirasie voor julle die groot nuus deel.
BELANGRIKSTE MENSE
Voor julle die aankondiging op sosiale media plaas, maak seker dat julle al die belangrikste mense in julle lewens (soos ouers, broers en susters) laat weet het. Dis baie onpersoonlik om op só ʼn manier uit te vind dat jou geliefde kind op trou staan! aankondigings is pret, maar kan ook geliefdes se bloeddruk opjaag as dit nie reg hanteer word nie.
MOENIE MENSE BOMBARDEER NIE
Aankondigings is baie opwindend, maar beperk die aankondigings tot een plasing per sosiale netwerk.
IDEES
MAN SE BESTE VRIEND EN AANKONDIGINGS
Laat julle geliefkoosde troeteldiere ʼn bord ‘vashou’ waarop die volgende geskryf staan: “Sy het ja gesê,” of as julle aparte troeteldiere het, laat die bordjie sê: “Ons word stiefboeties/sussies”.
IDEE VIR JAGTERS
Vir humoristiese aankondigings, bind die toekomstige bruidegom se hande en voete vas met ʼn tou, terwyl jy met ʼn geweer en ʼn bord oor hom staan, waarop die woorde: “Die jag is verby,” pruik.
VERLOWINGSELEMENTE
Maak seker dat daar agtergrondelemente ook in die aankondigingsfoto is. As hy jou byvoorbeeld in die woud die ja-woord vra, sit jou ring op ʼn hopie blare of laat dit aan ʼn dun takkie hang vir ʼn interessante foto.
VERSTEEKTE KAMERAMAN
Hierdie een verg ʼn bietjie voorafbeplanning. Reël met ʼn vriend of familielid om iewers ongesiens weg te kruip en die hele omblik op kamera vas te vang – hetsy met foto’s of op film. Deel hierdie spesiale oomblik dan met familie en vriende.
FOTOSPELING
Aankondigings op spesiale geleenthede (byvoorbeeld kerstyd, jou verjaarsdag of Paasfees), kan interessant wees omdat jy ’n tema aan dit kan heg. Laat die ring lê in ʼn kerskous of op ʼn hoop paaseiers.
Daar is soveel kreatiewe maniere om aankondigings te maak, so gaan loer gerus op webblaaie soos Pinterest as julle nog inspirasie nodig het.
Artikel: Gina van Staden
Foto: Bridal Guide