Bruidskrone is weer gewild, maar nie soos jou dit onthou nie. Minette Badenhorst verklap hoekom bruide so mal is oor hierdie nuwe tendens.
Bruidskrone is weer volop, maar dit is nie die fyn diamantkroontjies soos jy dit onthou nie. Die nuwe tendens is meer treffend. Blomkrone, vergulde krone met goud of roosgoud en kristalkrone is die nuwe style. Dit is so mooi, dit maak ons kniëe lam.
BLOMKRONE
Blomkrone pas perfek by die Boheemse bruid, maar dit is so divers dat dit eintlik by enige bruid se styl kan inpas. Kies die blomkleure en styl van die kroon om by jou persoonlikheid te pas. Sag en fyn tot iets meer dramaties. Hierdie sort bruidskrone kan ook self gemaak word, wat dit ideaal maak vir die selfdoenbruid.
KRISTALKRONE
Kristalkrone gee daardie tower-effek. Dit laat jou dink aan krone wat deur feëprinsesse gedra word. Dit lyk asemrowend saam met die sluier, maar ook daarsonder. Dit kan soos ʼn kroon gedra word of selfs omgedraai en aan agterkant vasgesteek word.
VERGULDE BRUIDSKRONE – GOUD, ROOSGOUD OF SILWER
Hierdie tipe bruidskrone is vir jou bruide wat ʼn indruk wil maak. Dit is treffend op die oog en gee die gevoel van koniklikheid. Dit laat jou dink aan krone wat gedra word in Game of Thrones se era. Vir ʼn bruid wat ʼn uitdagende persoonlikheid het of wat hou van daardie era se style, sal dit perfek pas. Goud en roosgoud is deesdae van die grootste tendense wat by troudekor ingebring word. Met die vergulde krone, kan jy dit ook by jou trou-uitrusting inbring.
Bruidskrone sal altyd in die mode wees, dit is net die style daarvan wat verander. Wees kreatief en verander die kroon style om by jou persoonlikheid te pas.
Foto’s: Pinterest