die voordele van 'n troustilis
Oorsee is dit hoogmode om ’n troustilis te hê, maar wat is dit? Het jy regtig een nodig vir julle mooiste dag of kan jy daarsonder klaarkom?

’n Troustilis is daardie persoon wat gaan seker maak dat jou troue so mooi is soos wat jy graag wil hê dit moet wees… want soms is jy teleurgesteld wanneer die prentjie in jou kop nie dieselfde is as die resultaat wat jy geskep het nie.

WAT IS ’N TROUSTILIS?
Net vir ingeval jy gewonder het – ’n troustilis is nie dieselfde as ’n troubeplanner nie – alhoewel ’n troustilis soms ’n troubeplanner sal bystaan met take omdat die stilis die bedryf so goed ken. ’n Troubeplanner is betrokke by die reëlings en organisering van die troue, terwyl ’n troustilis se hooffokus die voorkoms van die troue is. Laasgenoemde kan wissel van die algemene voorkoms van die troue, sodat alles ’n mooi eenheid vorm, tot kleiner en meer spesifieke detail – soos om die strooimeisie se rokkleure te kies, jou te help om te besluit watter blomme die beste sal werk, die perfekte agtergrond vir foto’s en lokale te kies en ook om die fotograaf by te staan met die stilering van troufoto’s.

Die troustilis se pligte word grootliks bepaal deur die bruidspaar. Baie paartjies weet presies watter atmosfeer hulle wil skep by hulle troues en het net iemand nodig om lewe te gee aan die visie, terwyl ander glad nie weet wat hulle wil hê nie en meer raad en leiding nodig het van iemand wat weet wat hulle doen. Dit kan baie stresvol wees om nie te weet watter tema jy moet kies vir jou troue of hoe om te kry wat jy graag wil hê nie. Daarom sal ’n troustilis baie handig te pas kom as jy hiermee sukkel.

’n Troustilis kan jou ook help om die kleure en sleutelelemente wat jy graag wil hê te kombineer sodat dit mekaar komplementeer en sal jou ook vinnig laat weet as iets nie gaan werk nie. Drie koppe is op die ou einde beter as een – veral as die derde een ’n professionele een is.

HET JY ’N TROUSTILIS NODIG?
Troues is reeds baie duur en baie paartjies probeer regtig koste sny waar moontlik. So hoe weet jy of jy sonder ’n stilis sal kan klaarkom of nie? As jy iemand is wat presies wil weet wat jy wil hê en jou vinger op die pols kan hou van al die reëlings, is hierdie uitgawe tien teen een onnodig. As jy egter onseker of verlore voel of min tyd het om betrokke te wees by die beplanning van jou troue, is ’n stilis ’n baie goeie idee.

WENK: As jy ’n troustilis wil hê, hou vooraf onderhoude en maak seker dat julle mekaar verstaan sodat daar geen misverstande insluip nie.
 
Foto: Beyond Your World

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA