Die DJ kan jou troudag maak of breek. Daarom is dit belangrik dat jy reg kies. Minette Badenhorst het by Simpsons Mobile gaan uitvind hoe paartjies hierdie keuse moet benader.

Die regte DJ en musiek vir julle troudag maak ʼn groot verskil aan die atmosfeer van die troue. Daarom is dit belangrik om te weet waarna om te kyk as julle die DJ kies. Ek gesels met Herman Lombard van Simpsons Mobile om bietjie meer uit te vind.

HOE KIES ’N MENS DIE REGTE DJ VIR JOU BELANGRIKE DAG?
“* Dis baie belangrik om seker te maak dat jou DJ by SAMRO geregistreer is, om sodoende enige ongerief te vermy. South African Music Rights Orginasation is ’n instansie waarby alle DJ’s geregistreer moet wees, om sodoende die reg te hê om musiek by enige geleentheid te mag speel.
* Nog ’n belangrike faktor is om te weet hoeveel ondervinding die DJ het van spesifieke funksies, ondervinding by ’n troue is baie belangrik, want ’n troue en onthaal is heeltemal anders as ’n gewone dans of jaareindfunksie! Indien die instansie 10, 15 of meer jaar ondervinding het, is dit nie nodig om te vra vir spesifieke verwysings nie. Die nodige ervaring sal voldoende wees.
* Omdat jou DJ ’n diensverskaffer is, moet hy jou belange op die hart dra en kan jy musiek versoek. Hou egter in gedagte dat jou musiekverskaffer ’n mate van vryheid op die dansvloer moet hê om gaste van alle ouderdomme te vermaak.
* Tydens die toesprake en heildronke moet die musiekinstansie voorsiening maak vir ’n koordlose mikrofoonsisteem, wat sodoende die taak van die seremoniemeester vergemaklik en die onnetheid van die drade uitskakel.”

WAT MOET PAARTJIES NOG IN GEDAGTE HOU WANNEER DIT BY DIE DJ KOM?
“* Vra jou seremoniemeester om seker te maak dat die regte volume gehandhaaf word gedurende die aand – wat vir julle toepaslik is. Die DJ sit agter die klank en sal dus nie hoor as daar ewe skielik ’n verskil is nie. Die klank moet ten alle tye van so aard wees dat die gaste nogsteeds met mekaar kan gesels. Wanneer die dansbaan geopen is, kan die musiek ’n bietjie harder gesit word, maar nie oorverdowend nie.”
* Hou in gedagte dat die gekwoteerde prys gewoonlik net tot middernag is en dat elke musiekinstansie in ’n ander prysklas val in terme van oortyd na middernag.”

Die DJ wat jy vir die troue kies is deurslaggewend vir beide die kerkseremonie en die onthaal. Raadpleeg reeds van die begin van die troubeplanning ʼn erkende musiekinstansie, soos Simpsons Mobile, vir professionele raad en diens.

Foto: The Knot

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA