Geskenkregisters is nie meer ʼn nuutjie in die troubedryf nie. An-Sophie Lourens het gaan ondersoek instel oor die moets en moenies hiervan.
Die afgelope paar jaar se gebruik van geskenkregisters, het ʼn paar moets en moenies begin uitwys.
As jy geskenkregisters wil skep vir jou groot dag, lees hier wat om in gedagte te hou om enige teleurstellings te voorkom:
• Jy kan aanlyn geskenkeregisters skep. Maak seker al jou besonderhede is korrek. As jy die opsie het dat die winkel van die geskenke na jou toe kan pos, maak seker jy kies ʼn datum wanneer julle weer by die huis sal wees. As jy byvoorbeeld direk na jou troue vir twee weke op wittebrood gaan, kies die afleweringsdatum vir wanneer julle van die wittebrood af terug is en nie die dag van die troue as daar niemand tuis is nie.
• As jy jou register ʼn paar maande voor die tyd open, maak seker dat jy deurlopend aanhou items kies. Van die items is dalk net vir ʼn paar weke beskikbaar. Sodoende voorkom jy dat gaste wat op die nippertjie ʼn geskenk gaan koop dalk niks meer van die items op die rakke vind nie.
• Maak seker dat die winkels die items wat reeds deur iemand gekoop is van die geskenkregisters afhaal. Jy mag dalk net vyf van dieselfde slaaibakke kry, as die geskenk aanhou wys op die register. Vra dalk vir ʼn tannie of vriendin om vir jou te kyk of die produk nog wys na sy dit gekoop het en volg op met die winkel as dit nie van die register af verwyder is nie.
• As jy items kies wat jy ʼn paar stelle van wil hê, maak seker jy kies genoeg van dit op die register. As jy byvoorbeeld ses lang stingel wynglase wil hê om mee tafel te dek,en daar is vier glase in ʼn boks, kies twee bokse. Mense neem dalk net aan jy het die gewenste hoeveelheid gekies en dat ander gaste dalk die res van die bokse klaar gekoop het, so jy het net nog een boks glase nodig en.
• Probeer om goedkoop items op jou lys te voeg. Baie geskenkregisters het net items bo R100 op, maar tog is daar baie oulike items in die winkel vir onder ʼn R100. Gaste koop dalk ʼn groot geskenk en sien dan die interessantste gewiggies wat help dat jou tafeldoek nie wegwaai nie raak en koop dit vir jou by. Sulke klein dingetjies kan jou altyd herinner aan die persoon en dat hulle dit vir julle troue gekoop het. Ander gaste koop dalk klomp goedkoop items, dan kry jy ʼn baie opwindende en interessante geskenkpakkie.
• As jy hou van items by ʼn baie duur winkel, maak die register daar oop. Die mense wat graag julle wil bederf met hulle items, kan met liefde daar gaan koop. Ander gaste wat dalk nie so baie kan spandeer nie, kan nogsteeds idees kry van wat om vir julle te koop en dit by ʼn goedkoper winkel gaan soek. Dis mos ʼn wen wen situasie vir almal.
Geskenkregisters kan baie funksioneel wees, maar daar kan ook hier en daar probleme opduik. Maak seker jy skep die register sodat dit alle teleurstellings voorkom en dat almal kan kies en keur na hartelus. Jy kry dalk al die geskenke wat jy op jou register gekies het, of dit nou by die winkel of ʼn ander winkel gekoop is, of in die vorm van papier is en jy gaan koop dit self.
Foto: Tajraj Events