Gesond en gelukkig wees op jou mooiste dag is ’n moet. Dit is daarom belangrik om behoorlik na jouself om te sien. Hier is raad.
As jy nie lekker voel nie, sal jy nie jou troudag kan geniet nie, so maak seker dat jy gesond en gelukkig is wanneer jy voor die kansel staan en gaan wittebrood hou.
Net soos wat jy jou troue in die fynste besonderhede beplan, is dit ook nodig om seker te maak dat jy al die nodige toetse, ondersoeke en inspuitings kry voor jou groot dag en wittebrood, sodat niks skeefloop nie. Onthou dat ’n bruid wat gesond is, ’n gelukkige bruid is. Hier is ’n paar toetse en ondersoeke wat jou hiermee sal help.
1. As jy enigsins siek of grieperig voel, moet dit nie self probeer dokter nie! Gaan vroegtydig dokter toe sodat hy vir jou iets kan gee om dit wat jy onderlede het gesond te maak.
2. As jy nog nie hiervoor was nie, gaan vir jou jaarlikse papsmeer en ondersoek by die ginekoloog, om seker te maak alles gesond is.
3. As julle nie dadelik met ’n gesin wil begin nie, is nou ’n goeie tyd om jou dokter te gaan sien om te kyk of die voorbehoedmiddel wat jy gebruik nog voldoende is.
4. As julle buite die land se grense gaan wittebrood hou, of miskien in ’n Malaria-gebied, moet julle albei die dokter gaan sien om die regte medikasie en inspuitings te kry. En onthou ook dat as julle op ’n bootreis gaan, jy genoeg naarpilletjies moet saamvat. Dit is belangrik dat julle jul huwelik gesond afskop op alle vlakke.
5. Dit is ’n goeie idee om ook sommer vir jou algemene jaarlikse ondersoek en bloedtoetse te gaan voor jou groot dag. Trou is die begin van ’n splinternuwe hoofstuk in jou lewe, en jy wil dit beslis nie ingaan met onaangename verrassings nie.
6. Omdat nou ’n goeie tyd is om te begin dink aan goed soos lewenspolisse, kan jy net sowel ook solank jouself laat toets vir HIV en ander siektes. Dit sal jou en jou toekomstige lewensmaat sommer baie gemoedsrus gee om te weet dat jy gesond is. Wat gedoen is, is gedoen.
7. As jou troue klaar beplan is en jy besef dat jou jy jou groot dag en eerste week van wittebrood met ’n gereelde maandelikse besoeker moet deel, gaan sien jou dokter vroegtydig sodat julle ’n plan kan maak.
8. As jou senuwees gedaan is en jy sukkel om jouself bymekaar te hou, gaan sien jou dokter oor ’n ligte kalmeermiddel, want stres is baie keer die oorsaak dat jy siek word of voel. Jy moet alles in jou vermoë doen om te verseker dat jy gesond is.
9. As jy chroniese medikasie gebruik, maak seker dat jy genoeg in voorraad het om die hele wittebrood te hou om krisisse te voorkom.
10. As julle na ’n plek toe gaan waar die temperatuur verskil van ons s’n, vra vir jou dokter vir iets om jou immuunstelsel ’n hupstoot te gee, want jy wil beslis gesond terugkom.
Gesondheidsprobleme hoef nie hierdie spesiale tyd in jou lewe te bederf nie, so maak seker dat jy jou deel doen om seker te maak dat jy perdfris en gesond is.
Foto: Get Applause