Hare en grimering kan instrumenteel wees in hoe jy op jou troudag oorkom. Minette Badenhorst het gaan uitvind hoe jy soos ’n sprokiesbruid kan lyk op die dag.

As jy jou eie hare en grimering wil doen op jou troudag, maar steeds soos die moderne sprokiesbruid wil lyk wat jy is, volg hierdie nuttige wenke.

Grimering deur Verne von Dudenstein

1. Plaas eerstens die onderlaag op jou ooglede. Poeier die onderlaag. Die oë word eerste ingekleur om te verhoed dat die donker poeiers mors op die res van jou gesig se onderlaag.
2. Gebruik jou grimeringsborsel met ʼn skakering oogskadu wat by jou haarkleur pas, en teken in jou wenkbroue.
3. Kies drie natuurlike kleur skakerings vir jou oë, byvoorbeeld, bruin, pienk en beige. Hierdie kleure laat jou natuurlik en romanties lyk.
4. Gebruik jou ligste skadu onder die wenkbrou en onder op jou ooglid.
5. Die tweede donkerste skadu pas jy toe in die plooi van jou oog.
6. Die donkerste skadu sit jy in die buitenste hoek van jou ooglid.
7. Die gebruik van ʼn oogpotlood is opsioneel. Te veel oogpotlood kan jou oë hard en donker laat vertoon.
8. Sit nou jou maskara aan.
9. Plaas nou onderlaag oor die res van jou gesig, asook onder jou ken en kakebeen. Poeier die res van jou gesig.
10. Gebruik ʼn groot poeierborsel en plaas ʼn skadu, een skakering donkerder, op die wangbeen.
11. Gebruik ʼn blosser en poeier dit liggies op die appel van jou wang.
12. Sit lipstiffie op om grimering af te rond. Ligte roos kleure is altyd meer gepas.

Hare deur Hair by Twanette

Om die sagte natuurlike voorkoms te kry wat almal wil hê is so maklik soos doen-dit-self!
Produkte
• Kadus Protect It Spray – nie net beskerm dit jou hare teen die hitte van die haardroeër nie, dit gee ook volume.
• Kadus Velvet Oil – seël die hare en gee glans.
• Kadus Lock It Spray.

Metode
1. Droog jou hare met ʼn handdoek af en spuit dit met Kadus Protect It Spray.
2. Kam jou hare goed deur om seker te maak die produk versprei deur jou hare.
3. Blaas jou hare reguit uit of gebruik Velcro-rollers indien jy meer volume verkies.
4. Laat jou hare of rollers afkoel en gebruik jou krultang en/of straightner om krulle te maak. Vat dun seksies hare van onder af en werk na die bokant van jou kop. Spuit Kadus Lock It Spray op elke seksie hare wat gekrul is.
5. Gebruik een spuit van die Kadus Velvet Oil en vryf dit sagkens deur jou hare.

Gebruik hierdie maklike stap-vir-stap om jou hare en grimering perfek te kry vir jou groot dag. Jy verdien om op jou beste te lyk.

Foto: Celest Cilliers Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA