Heildronke by troues word gesien as formaliteite. Iets wat gedoen moet word, maar waaroor die gaste – buiten vir die bruidegom se gedeelte – nie juis mal is nie. Hier is alles wat jy oor dié onderwerp moet weet om dit so vinnig en doeltreffend as moontlik af te handel.

Dit is moeilik om presies te bepaal waar die tradisie van heildronke vandaan kom, maar die gebruik om op iemand se geluk en voorspoed te drink, bestaan al vir jare lank. Sommige mense meen dat dit afkomstig is van die antieke Griekse gebruik, waartydens die gasheer van ’n troue die eerste een sou wees om uit ’n gemeenskaplike beker te drink ten einde die gaste gerus te stel dat die drank nie gif in het nie. Ander glo weer dat heildronke afkomstig is van die gebruik, waartydens ’n beker en stukkie roosterbrood by ’n troue omgestuur is en die gasheer dan die laaste een was om uit die beker te drink en dan ook die roosterbrood (toast) te eet om die gaste te vereer.

Buiten vir die seremonie, word die instel van heildronke by die onthaal, ook beskou as ’n meer formele gedeelte van die troue. Dit is die tydperk voordat die pret en kuier begin en is soms vir die gaste ’n marteling. Maar dit is nou een tradisie wat selde oorgeslaan word. Net soos die res van jou troue, vereis dit ook bietjie beplanning as jy wil hê dat alles vlot en vinnig moet verloop.

WATTER HEILDRONKE MOET INGESTEL WORD?
Die moderne samelewing, met saamgestelde gesinne, geskeide ouers, ensovoorts het gesorg dat daar nie meer streng reëls is oor presies watter tipe heildronke ingestel moet word nie. Daar is deesdae sommer ’n hele verskeidenheid toesprake wat plaasvind, maar volgens die oorspronklike tradisie moet daar slegs heildronke, deur verskeie partye, op die bruidspaar ingestel word en dan natuurlik ook een deur die bruidegom op sy bruid.

DEESDAE WORD DIE VOLGENDE HEILDRONKE, OOR DIE ALGEMEEN, INGESTEL:
* Op die bruid se ouers en grootouers
* Op die bruidegom se ouers en grootouers
* Op die bruid
* Op die bruidegom
* Op die bruidspaar

Dan kry die bruidegom ook ’n geleentheid om ’n toespraak te lewer, wat hoofsaaklik bedankings is en ’n paar mooi woorde (as hy een kan inkry) oor sy bruid.

Daar is nie ’n spesifieke volgorde waarin dit gedoen moet word nie, maar die meeste mense hou daarvan om die hoogtepunt (bruidspaar) heel eerste of heel laaste aan te pak. Die bruidegom se toespraak is gewoonlik die ysbreker voor die feestelikhede begin en word daarom laaste gedoen.

WIE MOET HEILDRONKE INSTEL?
Hierdie tradisie het met die jare verander, soos wat omstandighede verander het, en is deesdae nie meer so spesifiek nie. Volgens die oorspronklike tradisie sou die volgende persone heildronke instel:
* Die ouers van die bruid – Omdat die oorspronklike tradisie was dat die bruid se ouers vir die troue moes betaal, is hulle dan ook gesien as die gasheer en gasvrou van die troue. Die pa van die bruid het dus eerste sy toespraak gelewer en sommer ook die gaste verwelkom. Die doel van die toesprake deur die ouerpare was hoofsaaklik om die nuweling in hulle onderskeie families te verwelkom en ook ’n glasie te klink op die paartjie se toekoms saam.
* Die strooijonker en die strooimeisie – op die bruid en bruidegom, omdat daar aangeneem is dat hierdie persone die onderskeie partye goed ken aangesien hulle van die belangrikste rolle op die troue vertolk.
* Die bruidegom op sy bruid.

DEESDAE IS DAAR EINTLIK BAIE MEER HEILDRONKE WAT INGESTELWORD:
* op die bruidegom deur die strooijonker;
* op die bruid deur die strooimeisie;
* op die bruidspaar deur die ouers;
* op die bruid se ouers deur ’n vriend of familielid;
* op die bruidegom se ouers deur ’n vriend of familielid;
* op die grootouers (as daar is) deur ’n vriend of familielid;
* op die bruidegom deur die bruid; en
* ’n heildronk en toespraak deur die bruidegom.

Daar word ook bedankings gedoen deur die seremoniemeester en ’n tafelgebed deur die dominee of persoon wat aangewys word vir die taak.

Na elke heildronk word die glasies gelig en as die gaste gees het, sal daar selfs ’n paar lawwe liedjies volg.

Die volgorde en wie die toesprake lewer is nie so belangrik nie. Solank dit is soos wat julle dit wil hê. Met ’n klein bietjie geduld, beplanning en moeite kan die heildronke vir julle en die spesiale gaste van die mooiste herinneringe word van julle troudag.

Volgende week Dinsdag deel ons ’n paar wenke wat jou sal help wanneer jy jou toespraak moet skryf. Maak sommer nou al ’n nota in jou dagboek.

 

Foto: The Spruce

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA