’n Hennepartytjie laat enige vrou se hart klop van opgewondenheid. Hoe dan nou anders, dit is mos ’n aand waar ons, onself kan opdollie en ons litte losmaak saam met vriendinne. An-Sophie Lourens verklap hoe jy die perfekte geleentheid kan reël.

Dit is ’n feesviering van die nuwe hoofstuk wat vir die toekomstige bruid lê en wag. As jy die voorreg gekry het om vir jou vriendin haar hennepartytjie te reël of vriendinne moet kies om dit vir jou te reel is jy nou net op die regte plek. Hier is ’n paar wenk om te help om die dag te beplan:

* Nadat al die strooimeisies bymekaar gekom het en op ’n datum vir die hennepartytjie besluit het, waarvan hulle verseker weet die toekomstige bruid is beskikbaar, kan hulle fyner besonderhede begin beplan. As julle dit ’n verrassing wil hou vir die bruid, dra dit duidelik oor, sodat niemand dalk per ongeluk hulle mond verbypraat nie. Beplan mooi hoe julle haar by die venue gaan kry en wat julle vir haar gaan sê.

* Eerstens, luister na die bruid. Sy het juis die taak aan julle gegee, omdat sy glo julle ken haar die beste en weet die beste waarvan sy gaan hou en wat sy wil hê. Let op as sy iets laat glip wat sy graag op die hennepartytjie wil doen. As sy vra dat julle sekere goed nie moet doen nie, repekteer haar wens. Julle wil nie graag met ’n ongelukkige bruid opgeskeep sit die hele aand nie.

* Stel ’n begroting sodat die hennepartytjie almal se beursies gaan pas. Probeer ook om so veel as moontlik self-gemaakte items te gebruik. Dit is ook meer bekostigbaar om dalk by iemand se huis eers ’n ligte ete of verversings en drankies aan te bied voordat julle die stad gaan rooi verf. Op die manier kan julle werklikwaar enigiets self maak, van ’n lekker pons tot ’n fotohoekie.

* Dit is altyd lekker om ’n tema te hê vir ’n hennepartytjie, dit kan iets wees soos ’n Meksikaanse Fiesta of sommer net ’n sekere kleur.

* Maak seker tot op die laaste oomblik dat alles in plek is. Maak ’n afmerklysie met die venue, kos, drankies, musiek, vermaak ens.

* Sou jou werk of persoonlike lewe dit moeilik maak om die hennepartytjie goed te kan organiseer, moenie skaam voel om hulp in te kry nie. Daar sal sekerlik baie ander vriendinne en familie wees wat met liefde ’n handjie sal wil bysit.

* Dit is nie nodig om die tradisionele hennepartytjie te hou wat jou die volgende oggend laat gryp na die Disprins en Cream Soda nie, of dalk laat wonder hoekom is jou spiere so styf nie. As jy weet die bruid gaan eerder ’n rustige kaas- en wynaand geniet of selfs net ’n spa-uitstappie met ’n sjampanje-ontbyt, laat die henne eerder so dan saam kloek.

* Maak seker julle het ’n plan B. Sou julle dalk ’n buitelug-ete gereël het en dit reën, sorg dan dat julle ’n onderdak plek het om na toe te skyf. Dit is glad nie nodig om die hoenders in te wees as iets wel nie volgens plan verloop nie. Bly koelkop en improviseer, die bruid weet nie presies wat julle beplan het nie.

Met hierdie wenke word die hennepartytjie gereël nog voor die hane kraai. Met goeie beplanning, ’n goeie idee waarvan die toekomstige bruid gaan hou en ondersteuning kan julle ’n aand reël, wat nog lank op die gaste se lippe gaan wees. Gaan en vier saam met die bruid haar nuwe avontuur tot die son opkom!

Foto: Party Delights

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA