Julle is maar pasgetroud en wil glad nie daaraan dink om mekaar te verloor nie. Maar die lewe is onvoorspelbaar en daarom is dit belangrik om ’n behoorlike testament in plek te hê, sodat die mense wat agterbly nie sukkel nie.
Net soos wat ’n huweliksvoorwaardekontrak voor die huwelik belangrik is, is afsonderlike testamente na julle troue ook baie belangrik. ’n Mens wil nie juis dink aan die dood wanneer julle pas ’n nuwe lewe saam begin het nie… maar dit is gewoonlik iets wat gebeur wanneer jy dit die minste verwag. Die grootste guns wat jy die persoon kan doen wat agterbly, is om ’n behoorlike testament in plek te hê om die lewe vir hom/ haar so maklik as moontlik te maak gedurenende hierdie traumatiese tyd.
WAT IS ’N TESTAMENT?
’n Testament is ’n skriftelike dokument waarin ’n persoon spesifiseer wat met sy/haar eiendom (ook genoem as ‘boedel’) moet gebeur indien hy/sy sou doodgaan. Hierdie persoon noem ons ’n testateur/testatrise. Die dokument moet dan onderteken word deur die persoon en ook twee getuies. Die twee getuies moet onafhanklik wees, mag geensins in die testament genoem word nie en is dit ’n vereiste dat hul bo sestien jaar oud moet wees. Die testateur/testatrise mag nie iemand anders opdrag gee om die testament namens hom/haar te onderteken nie. Verstaan jy nou waarom dit belangrik is om sommer nóú al jou testament in orde te kry?
WAT IS ’N EKSEKUTEUR?
Die testateur/testatrise moet ’n persoon in die testament op skrif aanstel om die boedel af te handel na die testateur/testatrise se dood. Die eksekuteur word aangestel om die boedel te beredder ingevolge die reëls van die Boedelwet 66 van 1965. Bereddering beteken om die boedel af te handel. Die eksekuteursfooie van ’n boedel is gewoonlik 3.5% van die bruto waarde van die boedelbates en word die fooi deur die boedel betaal.
WIE WORD AS EKSEKUTEUR AANGESTEL?
Enige persoon kan aangestel word as die eksekuteur van ’n boedel. Dit sluit in, ’n vriend of familielid, ’n prokureur, ’n rekenmeester of ’n bank. Ons het al geleer dat dit meer voordele inhou om eerder ’n gekwalifiseerde en professionele persoon aan te stel as eksekuteur. Deur dit te sê, bedoel ons dat die persoon ondervinding moet hê in die bereddering van boedels aangesien enige ander persoon (’n ‘leek’) wat geen ondervinding het, steeds ’n kenner sal moet nader of aanstel. Die testateur/testatrise kan meer as een eksekuteur aanstel.
HOEKOM IS ’N TESTAMENT SÓ BELANGRIK?
’n Testament dui vir die familie aan wat met jou eiendom gebeur en hoe jou eiendom onder hulle verdeel moet word na jou dood. Jy kan jou eie testament hê of ’n gesamentlike testament al is jy en jou gade binnegemeenskap of buitegemeenskap met of sonder die aanwasbedeling getroud. Dit is noodsaaklik dat jy gereeld jou testament sal aanpas soos jou eiendom groei of in die geval wat die omstandighede verander om enige gevolge en konflik te vermy. Ons voorstel is dat jy jou testament elke ses maande moet hersien. As jy nie ’n geldige testament het nie, kan dit lank vat vir jou boedel om afgehandel te word en jou naasbestaandes mag dalk blootgestel word aan onsekerheid en daar bestaan dan die moontlikheid dat jou eiendom nie verdeel sal word onder jou naasbestaandes soos wat jy dit wou gehad het nie.
Lees volgende week ons Van Eden Attorneys se opvolgartikel wat jou meer sal vertel oor boedels en wat jy nog alles moet weet. 3 gelukkige TROUKOORS-lesers sal volgende week ook ’n kans staan om ’n spesiale afslagaanbod te kry op hulle regsbehoeftes. Moenie dit misloop nie!
Van Eden Prokureurs spesialiseer in:
Die opstel van testament en bereddering van boedels
Eiendomsoordragte
Familiereg
Litigasie (siviel en strafregtelik)
Kommersiële litigasie
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na reception@vanedenattorneys.co.za
Artikel: Rohann Derks