Jaloesie kan julle verhouding kelder. Kaleidoskoop se Jouba Jordaan wat mans, oor die algemeen, van hierdie groenoogmonstertjie dink.

Nadat Jouba Jordaan in die sang-groep 4 Oaks gesing het, stig hy in 2006 die groep Kaleidoskoop saam met Anique Jordaan. Hy verklap hoe ’n mens kan keer dat jaloesie jou verhoudingsbootjie laat sink.

Hy voel dat in ’n ideale wêreld, waar alle mense perfek was, is jaloesie ’n definitiewe nee. “Ek dink egter jaloesie is ongelukkig redelik normaal en nie noodwendig negatief nie. Ek dink dit het meestal wel ’n negatiewe invloed op ’n verhouding, ténsy dit goed bestuur word.” Jouba noem dat ’n ‘baie ligte hoeveelheid’ daarvan nogal oulik kan wees. Soos die woord sê “te veel” van enigiets is ongesond en té veel jaloesie sal hom verseker afsit.

“Indien ek my meisie rede sou gee om jaloers te wees, moet ek myself regruk en eerstens kyk of die fout by my lê. Indien nie, dink ek dis belangrik om agter die kap van die byl te kom. Daar is altyd iets wat jaloesie veroorsaak, iets wat in iemand se verlede gebeur het wat dit laat opvlam.” Jouba sê dit is belangrik dat ’n mens saam op ’n sensitiewe wyse die oorsaak vind en benader en dat sy self daaraan die nodige aandag moet skenk. Hy lê ook klem op die belangrikheid van oop kommunikasie. Dis ’n goeie vertrekpunt sodat hy weet wat dinge vir haar moeilik maak. “Ek sal dié situasies dan meer sensitief kan benader en haar sover moontlik akkommodeer. Indien die rede dalk my gedrag of lewensstyl is, sal ek my moue oprol en aan die werk spring om haar vertroue te wen en die opofferings maak. My meisie sal die Here ken en ons sal saam kan bid en die Here vertrou om die oorsaak van jaloesie vir ons uit te wys.”

Jouba glo dat hoe veiliger die persoon voel in die verhouding, hoe minder sal jaloesie ’n probleem wees. “Ek dink egter wel dat indien daar steeds ’n oorsaak is wat dormant gelaat word en nie uitgesorteer word nie, sal dit steeds bly kop uitsteek en maar altyd ’n probleem in die verhouding bly.”

As kunstenaar in die soeklig, is dit oor die algemeen moeiliker om dinge privaat te doen, omdat almal jou doen en late dophou. “Indien ek myself ooit in so ’n situasie sou bevind waar ek in ’n verhouding is en jaloesie kop uitsteek, dink ek ’n goeie beginpunt sal wees om alle mense rondom jou ’n stukkie son in die wêreld te gun. Dit is nogal moeilik om jaloers op ’n persoon te wees wat almal respekteer en nie afgunstig is teenoor ander nie. Ek dink egter mens sal steeds afbrekende kritiek ontvang en hoe mens dít hanteer en daarop reageer, sal jou eintlike karakter ontbloot en die wêreld reg of verkeerd bewys.”

Jouba self is nie geneig om jaloers te wees nie, maar natuurlik benodig ’n verhouding dan ’n stewige vertrouensfondament. “Indien vertroue stewig in plek is, is jaloesie onwelkom, hy betaal nie huur nie, hy moet uit!”

NET VIR DIE PRET
Blond of brunet? “Brunet.”
Hamburger of slaai? “Steak.”
Kurwes of slank? “Goue middeweg.”
Fliek of dans? “Fliek en dan gaan dans.”
Swembroek of bikini? “Hang af hoeveel mense op die strand is… en of ons getroud is of nie.”
Sandale of plakkies? “Sandale in die stad of tydens kuiers, plakkies of kaalvoet orals anders.”
Stil of spontaan? “Skaam-stil, dog spontaan.”

Artikel: Yolanda Wessels
Foto: Verskaf 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA