Kersfeestroues raak al hoe meer gewild en met die feesseisoen wat om die draai is, het jy dalk ’n laaste paar idees nodig om jou mooiste dag af te rond. Minette Badenhorst het raad.

Desember is somer in Suid-Afrika, so dit is nou nie ʼn winterwonderland nie, maar daar is steeds vele oulike idees vir daardie paartjies wat Kersfeestroues wil hê of ʼn Kersfeesgevoel by hulle troue wil skep.

Hier is ses oulike idees vir Kersfeestroues in Suid-Afrika.

OULIKE DANKIEGESKENKIES
Klein kersboompies vir elke gas is die ideale geskenkies vir Kersfeestroues. Hulle kan dit in hulle tuin plant of êrens in hulle huis sit. Dit is ietsie wat hulle dan vir Kersfees ook kan gebruik.

Kersfeesornamente as tafelaanwysings, asook ʼn oulike dankiegeskenkie. Hang verskillende ornamente met jou gaste se naamkaartjies op, wat hulle tafels aanwys en wat hulle dan na die tyd kan neem as ʼn geskenkie. Of plaas ʼn ornament in ʼn oulike dankieboksie wat elke gas kan neem.

KERSFEESBOOMPIES VOL LIGGIES IS MOOI VIR KERSFEESTROUES
Gebruik ’n klomp mediumgrootte kersboompies as die agtergrond vir julle seremonie-area. Hang kersfeesliggies aan al die boompies, en skep ʼn pragtige en romantiese atmosfeer.

GOUE TAKKE
Gebruik verskillende takke, wat jy met goue sproeiverf kan verf. Dit lyk pragtig en kan op soveel maniere gebruik word. Jy kan dit op die tafels plaas saam met groenerigheid. Dit gee ʼn elegante afwerking aan jou tafeldekor.

Die goue geverfde takke kan ook as hangdekor gebruik word. Hang dit bo jou tafels, met stringe liggies aan.

KERSFEESTEMA PAJAMAS
Oulike Kersfeespajamas vir jou en jou gevolg terwyl julle regmaak plaas die kersie op die koek van Kersfeestroues. Kyk hoe oulik is hierdie stelletjies van Alsleepwear.

KERSE EN LIGGIES AS HOOF-ELEMENT BY KERSFEESTROUES
* Duisende liggies en kerse sal daardie gevoel gee van Kersfees, maar skep ook ʼn romantiese atmosfeer. Daar is baie opsie vir die opstel van hierdie items.
* Versier ʼn muur met stringe liggies, dit lyk pragtig op foto’s en skep ook ʼn ongelooflike atmosfeer.
* Kerse op die tafels en op staanders regdeur die onthaalarea.
* Een groot kersboom versier met liggies. Julle en jul gaste kan pragtige foto’s neem voor hierdie hoekie.

GESKENKTOEDRAAISTASIE
Hierdie is ʼn oulike idee vir daardie paartjies wat dalk eerder trougeskenkies wil skenk. Stel ʼn geskenktoedraaistasie op met ʼn versierde Kersboom. Jou gaste kan dan geskenkies bring, wat hulle daar kan toedraai en dit kan dan alles na die troue geskenk word aan ʼn kinderhuis. Of jou gaste kan klaar toegedraaide geskenkies bring en julle kan ʼn oulike area hê waar hulle dit kan sit om dan later geskenk kan word.

Met ʼn paar van hierdie idees kan Kersfeestroues elegant, maar ook prettig benader word. Lekker beplan.

Foto’s: Pinterest en Al Sleepwear

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA