kinders
Kinders en hulle teenwoordigheid by troues is deesdae nogal ’n groot bron van konflik wanneer dit by troues kom. Gina van Staden ondersoek hoe ’n mens hierdie netelige kwessie moet benader.

ekspo-2

Dit raak ál gewilder dat trou-uitnodigings lees: “Geen kinders asseblief”. Die rede hiervoor is nie noodwendig dat paartjies nie van kleingoed hou nie, maar soms is die troue net van so ʼn aard dat nie kindervriendelik is nie, of dat pare net steuring wil voorkom. Hanteer die saak so:

ONTSPAN, NIE ALMAL GAAN KWAAD WEES NIE
Party ouers is maar net te bly wanneer hulle af en toe ʼn bietjie kan ontspan en uitgenooi word om iewers heen te gaan sonder die kinders.

PRAAT EERS MET JOU GASTE VOOR JY UITNODIGINGS STUUR
Wanneer jy jou gastelys opstel, merk die gaste af wat kinders het. Bel elkeen en verduidelik die situasie rondom die rede waarom julle nie kinders wil nooi nie. Lig punte uit soos waterfonteine en damme by die venue, dat die begroting te klein is om kinders in te sluit of wees net eerlik en sê dat julle dit so verkies. Só gee julle hulle ook genoeg tyd om te begin reël vir kinderoppassers.

KINDEROPPASSERS
Julle kan op die uitnodiging aandui dat kinders nie genooi word nie, maar dat julle ‘n kinderoppassers beskikbaar sal hê by iemand se huis (julle eie huis, skoonouers s’n, ensovoorts) wat na die kinders sal kyk indien die gaste nie self beskikbare oppassers kan kry nie.

SPESIALE AREA VIR KINDERS
As julle nie kinders tussen die volwassenes tydens die onthaal wil hê nie, kan julle altyd ʼn vertrek of afdeling inrig spesiaal vir die kinders. Kry ʼn paar oppassers en vermaak hulle met gesigverf, speletjies en flieks. Hou ook ʼn paar matrasse byderhand vir die outjies wat moeg raak en ʼn uiltjie wil knip. Dui net onder julle uitnodiging aan dat die kinders hulle eie vermaak apart van die onthaal sal hê.

MAMMAS WAT BORSVOED
Julle moet vooraf besluit of julle enigsins buigbaar is met julle kinderlose trouwense. Soms kan gaste wat van ver af moet reis nie hulle kinders agterlaat nie. Daar mag ook gevalle wees van borsvoedende ma’s wat hulle kleingoed by hulle moet hou.

AS DIE BOM BARS
Wanneer iemand aanstoot neem omdat julle nie kinders by julle troue wil hê nie, sal julle moet besluit of julle uitsonderings gaan maak vir hulle bloedjies en of julle hulle eerder van die gastelys gaan afhaal.

Nie almal is gelukkig wanneer hulle kinders nie ingesluit is by troues nie, maar as ʼn paartjie het julle die reg om dit so te versoek.

Foto: Support for Stepdads

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA